NWU-navorser bring 2018 Vroue in Wetenskap-toekenning huis toe

Marelize Santana -- Mon, 08/27/2018 - 09:19

NWU-navorser bring 2018 Vroue in Wetenskap-toekenning huis toe

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se prof Ilani Loubser het tydens die 2018 Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap-toekenningseremonie met die toekenning: Uitnemende Jong Vroue-wetenskaplike: Astronomie weggestap.

Die prestigegeleentheid wat sedert 2003 deur die Departement vir Wetenskap en Tegnologie (DWT) aangebied word, het op 23 Augustus 2018 in Polokwane plaasgevind.

Hierdie jaarlikse toekennings erken en beloon vroulike wetenskaplikes en navorsers se uitnemendheid, en stel hulle as rolmodelle vir jonger vroue voor.

Die tema van die 2018-weergawe van die toekennings was “100 jaar van Mama Albertina Sisulu: Vroue verenig om Suid-Afrika vorentoe te neem”.

Prof Loubser is ’n medeprofessor by die Sentrum vir Ruimtenavorsing en die vakvoorsitter vir fisika by die NWU se kampus in Potchefstroom. Haar navorsing fokus op die vorming en evolusie van massiewe elliptiese sterrestelsels, met die klem op die dominante sterrestelsels in sterrestelselgroepe en  klusters.

Haar leidende waarnemingstudies met teleskope soos die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop (SALT), die Gemini-teleskope in Hawaii en Chili, en die Kanada-Frankryk-Hawaii-teleskoop, het daartoe gelei dat sy in 2017 die Henri Chrétien-toekenning vir waarnemingsastronomie van die Amerikaanse Astronomievereniging ontvang het.

Prof Loubser is sterk daartoe verbind om die volgende geslag Suid-Afrikaanse sterrekundiges op te lei. Sedert 2010 het sy met sukses drie postdoktorale genote gementor, twee doktorale en ses meestersgraadstudente gehelp om te gradueer, en studieleiding aan agt honneursprojekte verskaf – almal by die NWU se Sentrum vir Ruimtenavorsing.

Haar huidige navorsingsprojekte plaas groot klem op die gebruik en opleiding van studente vir Suid-Afrikaanse navorsingsgeriewe, insluitende die SALT en ander Sutherland-gebaseerde teleskope, die MeerKAT-radioteleskoop, en uiteindelik die Vierkante Kilometer Netwerk (SKA).

Klik hier om na ʼn video van die toekenningseremonie te kyk.


Prof Ilani Loubser.

#NWUVroue