NWU-meestersgraadstudent wen toekenning

Belinda Bantham -- Wed, 09/13/2017 - 15:13

NWU-meestersgraadstudent wen toekenning

’n Meestersgraadstudent aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs by die konferensie van Antropologie Suider-Afrika in Malawi ’n toekenning gewen.

Hestia Victor het die Elaine Salo-toekenning gewen met die aanbieding van haar referaat “There is life in this place: DIY formalisation, water infrastructure and buoyant life in the Marikana informal settlement near Potchefstroom.” Hierdie referaat is op haar honneursgraad-navorsingsprojek gebaseer.

Hestia sê dat die Marikana informele nedersetting in Potchefstroom is ’n stowwerige plakkerskamp waar die staat inwoners aan hulleself oorgelaat het en waar daar nie basiese dienslewering is nie. Die meeste van die inwoners is werkloos en kan nie op ’n betekenisvolle manier aan die markekonomie deelneem nie.

“Marikana is ’n plek wat ’n mens aan die dood kan laat dink, maar tog ervaar inwoners dat daar ‘lewe in die plek’ is,” sê Hestia. “Hierdie referaat vertel die storie van hoe inwoners van Marikana ’n selfdoen-formalisering op die been gebring het en water-infrastruktuur aan die gang gekry het. Hulle stuur hulself deur die troebel waters van “laat-liberalisme” om “lewe in hierdie plek” te ervaar en in stand te hou.”

Sy sê dat die lewe wat die inwoners ervaar, nie “romanties veerkragtig” is nie, en hulle is deeglik vertroud met teëspoed.

“Ek noem dit ʼn drywende veerkragtigheid.”

Hestia is tans besig met ‘n meestersgraadstudie in sosiale antropologie en berei ‘n navorsingsvoorstel voor wat op haar etnografiese navorsing in Marikana voortbou. Sy beplan om navorsing oor stedelike antropologie (infrastruktuur) en mediese antropologie (moederskap) te doen.