NWU lewer hoogste getal suksesvolle kandidate vir SAIGR-eksamen in die universiteit se geskiedenis

Belinda Bantham -- Thu, 04/05/2018 - 09:28

NWU lewer hoogste getal suksesvolle kandidate vir SAIGR-eksamen in die universiteit se geskiedenis

Die uitstekende prestasie van sy studente in geoktrooieerde rekenmeesterskap het weer eens die Noordwes-Universiteit (NWU) onder die top universiteite in die land geplaas.

Dit was duidelik toe die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) onlangs die uitslae van Januarie 2018 se Aanvanklike Bevoegdheidstoets (ABT: kwalifiseringseksamen deel 1) bekend gemaak het.

Die NWU was in die vierde plek uit 15 universiteite met ’n 93%-slaagsyfer vir kandidate wat vir die eerste keer die eksamen afgelê het.

Die NWU het hierdie jaar 101 suksesvolle kandidate gelewer, vergeleke met verlede jaar se 93.

“Dit is die hoogste getal suksesvolle kandidate wat die eksamen die eerste keer geskryf het in die geskiedenis van die NWU, en ons eerste driesyfergetal vir die SAIGR ABT,” sê prof Nico van der Merwe, die programleier vir geoktrooieerde rekenmeesterskap op die NWU se kampus in Potchefstroom.

Hy voeg by dat sewe van die NWU se *Thuthuka-kandidate met hulle eerste poging geslaag het. Die algehele getal swart, bruin en Indiërstudente wat geslaag het, het van 14 in 2017 tot 21 in 2018 gestyg.

Die Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters van Namibië (ICAN) het ook sy uitslae bekend gemaak, en die NWU het ’n 92%-slaagsyfer vir sy Namibiese kandidate gehad. Die universiteit het ook ’n kandidaat in die Namibiese topvyf-lys gehad, naamlik Josephine Diogenus, wat in die tweede plek geëindig het.

“As ons die SAIGR- en ICAN-syfers kombineer, het die NWU in hierdie eksamen 112 nuwe geoktrooieerde rekenmeesters vir die mark gelewer, wat weer eens ons hoogste getal ooit is,” voeg prof Van der Merwe by.

Volgens die uitslae wat deur die SAIGR vrygestel is, was die nasionale gemiddelde slaagsyfer vir kandidate wat die eksamen die eerste keer afgelê het 78% – 15% laer as dié van die NWU.

*Deur sy Thuthuka-beursfondsprojek plaas die SAIGR swart en bruin studente met volle beurse by geselekteerde SAIGR-geakkrediteerde universiteite.