NWU konsekwent onder die top SA-universiteite op rangordelyste

Belinda Bantham -- Fri, 11/08/2019 - 12:55

NWU konsekwent onder die top SA-universiteite op rangordelyste

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het bewys dat hy ’n konsekwente krag vir hoër onderwys van gehalte is. Dit is duidelik uit die jongste graderings wat in November deur die Times Higher Education (THE) World University Rankings uitgereik is.


Die universiteit is deurgaans onder die topuniversiteite in Suid-Afrika geplaas. Dit het op verskeie kundigheidsgebiede uitgemunt, insluitende die regte, besigheid en ekonomie, sosiale wetenskappe, opvoedkunde en geesteswetenskappe. 

Dit is veral in regstudies en in besigheid en ekonomie dat die NWU in die jongste graderings uitblink. Die NWU is op hierdie gebiede onderskeidelik in die top 5 en top 7 van die plaaslike universiteite geplaas. 

Die NWU is ook in die top 10 in sosiale wetenskappe (8ste) en opvoedkunde (9de). Vroeër hierdie jaar het die THE die NWU se geesteswetenskappe in die agtste posisie geplaas.

Die NWU is algeheel in die vyfde posisie in Suid-Afrika, ’n merkwaardige prestasie, aangesien dit die eerste jaar is dat die universiteit deur die THE gegradeer is.  

Die THE se ranglys vir universiteite van die wêreld is die enigste wêreldwye prestasietabelle wat navorsingsintensiewe universiteite regoor al hulle kernmissies beoordeel, naamlik vir onderrig, navorsing, kennisoordrag, en internasionale profiel. THE gebruik 13 noukeurig-gekalibreerde prestasieaanwysers om die omvattendste en mees gebalanseerde vergelykings te verskaf wat deur studente, akademici, universiteitsleiers, die bedryf en regerings vertrou word.

Die prestasieaanwysers word in vyf gebiede gegroepeer: Onderrig (die leeromgewing); navorsing (volume, inkomste en reputasie); aanhalings (navorsingsinvloed); internasionale profiel (personeel, studente en navorsing); en bedryfsinkomste (kennisoordrag).

Prof Linda du Plessis, adjunk-visekanselier vir beplanning en Vaaldriehoekkampusbedrywighede, sê dat die NWU se prestasie ’n positiewe teken is van die relevansie asook die hoë standaard van die akademiese prestasie. “Dit is veral belangrik terwyl studente vir ’n wêreldwye toekoms voorberei word.”

Prof Dan Kgwadi, visekanselier, het gesê dat hoewel gradering nie ’n doelwit is wat die universiteit najaag nie, die graderings bevestig dat die NWU op pad is om sy droom te verwesenlik om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees.
Vir meer inligting besoek:

https://www.timeshighereducation.com/world-university-rankings/2020/subj...
https://www.timeshighereducation.com/world-university-rankings/2020/subj...
https://www.timeshighereducation.com/world-university-rankings/2020/subj...
https://www.timeshighereducation.com/world-university-rankings/2020/subj...
https://www.timeshighereducation.com/world-university-rankings/2020/subj...