NWU-kenner deel kundigheid namens SA in China

Belinda Bantham -- Mon, 10/09/2017 - 14:44

NWU-kenner deel kundigheid namens SA in China

ʼn Kenner van die bekamping van verwoestyning van die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs sy kennis en ervaring op dié gebied met kundiges van oor die wêreld gedeel.

Prof Klaus Kellner van die Skool vir Biologiese Wetenskappe en die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur het Suid-Afrika in September verteenwoordig by die vergadering van die Komitee vir Wetenskap en Tegnologie (Committee for Science and Technology) vir die Konferensie van Partye (Conference of Parties - COP13) van die Verenigde Nasies se Konvensie vir die Bekamping van Verwoestyning (United Nations Convention tor Combat Desertification - UNCCD) in Ordos, Inner Mongolië, China.

Hy het ook die UNCCD se voorbereidingsvergadering vir COP13 in Kenia bygewoon en die Komitee vir Wetenskap en Tegnologie van Suid-Afrika in die UNCCD se Afrika-streek daar verteenwoordig.

Prof Kellner is ook op die lys van kundiges vir natuurlike hulpbronbestuur vir Suid-Afrika se Departement van Omgewingsake by die UNCCD. Hy verteenwoordig die land die afgelope 12 jaar by nasionale en internasionale vergaderings as wetenskap- en tegnologie-korrespondent vir gronddegradasie en verwoestyning.

Prof Kellner was ook die voorsitter van die Afrika Unie se vergadering wat gehou is om die rol van wetenskap by die UNCCD-COP13 te bespreek. Hy het ook onlangs ʼn verslag vir die Afrika Unie se liggaam, Semi-Arid Food Grain Research and Development, oor die “Versterking van die rol van wetenskap en tegnologie in die bestryding van verwoestyning in Afrika” afgehandel.

 

Prof Klaus Kellner het die UNCCD se voorbereidingsvergadering vir COP13 in Kenia bygewoon.