NWU ken Afrika se eerste PhD in IKS met ʼn fokus op inheemse Afrika-astronomie toe

Belinda Bantham -- Wed, 11/06/2019 - 08:26

NWU ken Afrika se eerste PhD in IKS met ʼn fokus op inheemse Afrika-astronomie toe

Die mense in Afrika het al eeue lank tyd, seisoene en rigting met behulp van die sterre bepaal, en nou het die Noordwes-Universiteit (NWU) die vasteland se eerste PhD in Inheemse Kennisstelsels (IKS) met ʼn fokus op inheemse Afrika-astronomie aan dr Motheo Koitsiwe toegeken.

 

Hy het op 17 Oktober sy graad op die kampus in Mahikeng ontvang.

Dr Koitsiwe het in sy studie ’n gevallestudiebenadering gevolg met die ondersoek van inheemse Afrika-astronomie van die Batswana in Botswana en in Suid-Afrika.

Die studie het onthul dat die Batswana hul inheemse kennis van hemelliggame vir landbou, reproduktiewe gesondheid, navigering, die berekening van tyd, die maak van kalenders, die maak van reën en dankseggingseremonies, en vir die bestuur van natuurrampe gebruik.

Tradisionele liedere, gedigte en inheemse speletjies word ook gebruik as maniere om kennis oor hemelliggame aan jonger lede van die gemeenskap oor te dra sodat dit vir die nageslag bewaar kan word.

Dr Koitsiwe het sy passie vir navorsing oor IKS, en veral vir inheemse astronomie, vroeg in sy akademiese loopbaan ontwikkel.

“Hierdie passie is deur my oorlede ouma, Mmamodiagane Tladinyane, aangewakker toe sy vir ons om die vuur stories, gedigte, raaisels, liedere oor die Afrika-naghemel en die kosmologie vertel het,” sê hy.

Hy sê dat hy geëerd is dat hy sy PhD in IKS voltooi het in dieselfde jaar dat president Cyril Ramaphosa die IKS-wetgewing onderteken het.

“Die NWU se kampus in Mahikeng is die baanbreker van IKS in Suid-Afrika en het in 2001 met onderrig, leer en navorsing in IKS begin.

“Dit is die eerste hoëronderwysinstelling in die land wat onderrig-, leer- en navorsingsprogramme in IKS aanbied wat deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAKO) geakkrediteer is,” voeg hy by.

Volgens prof Mogomme Masoga, wat medestudieleier vir dr Koitsiwe se doktorale studies studieleiding was, is sy student se tesis oorspronklik en nuut, wat beteken dat hierdie navorsing uniek in die astronomie is.

Dr Koitsiwe, wat ook ’n BA-graad in Sosiale Wetenskappe en ’n honneurs- en meestersgraad in IKS aan die NWU verwerf het, beplan om sy tesis in Tswana te vertaal sodat dit nie net die aspirasies van akademici weerspieël nie, maar ook dié van die Bakgatla Ba-Kgafela en die Batswana in die algemeen.   

 

Die NWU het Afrika se heel eerste PhD in IKS met ʼn fokus op inheemse Afrika-astronomie aan dr Motheo Koitsiwe toegeken.