NWU-Juta skynverhore: Dit is weer tyd vir die weegskaal van geregtigheid

Belinda Bantham -- Mon, 08/12/2019 - 09:40

NWU-Juta skynverhore: Dit is weer tyd vir die weegskaal van geregtigheid

Die opwindende finale rondte van die Noordwes-Universiteit (NWU) se jaarlikse skynverhore, wat deur die Fakulteit Regte in samewerking met Juta aangebied word, sal op 20 Augustus by die Sanlam-ouditorium op die kampus in Potchefstroom plaasvind.

Dit word op 19 Augustus deur die ewe opwindende semifinale voorafgegaan. Die voorsittende beamptes vir die finale en semifinale rondtes is onderskeidelik regter Leonie Windell en advokaat Mark Adams. Albei was al voorheen by die gewilde kompetisie betrokke.

Soos in vorige jare sal daar hierdie jaar deelnemers van al drie die NWU se kampusse wees wat om die titel van NWU-Juta-skynverhoorwenners meeding.

Die kompetisie het beduidend gegroei sedert dit in 2011 begin het, en die organiseerders verwag dat meer as 250 studente hierdie jaar gaan deelneem. Dit gee nie net vir studente die geleentheid om hulle regsvaardighede te oefen nie, maar verskaf ook vermaaklike “hofdrama”, met klaers, beskuldigdes, ’n landdros en bekwame spanne aanklaers en prokureurs.

Die wenspanne sal deel in pryse ter waarde van R60 000 – ’n groot aansporing vir deelnemers.

Spanne van vier studente elk sal in ’n “kriminele saak” teen mekaar te staan kom, en onderskeidelik vir die verdediging en vir die staat optree. Agt spanne – twee van elke kampus en twee gekombineerde NWU-spanne – sal hulle regsvaardighede ten toon stel.

 “Studente neem vrywilliglik aan hierdie kompetisie deel. Dit is ’n duidelike aanduiding van hulle gretigheid en gewilligheid om te leer,” sê adv René Koraan, direkteur van professionele ontwikkeling en gemeenskapsbetrokkenheid en senior lektor by die Fakulteit Regte in Potchefstroom.

Sy sê dat die skynverhoorkompetisie, haar breinkind, ’n ideale geleentheid is om ’n passie vir die reg te kweek en ’n gees van kollegialiteit te vestig. “Die feit dat die tweede- en derdejaarstudente van al drie ons kampusse deelneem, is ook ’n belangrike stap in die proses om een fakulteit te word.”

Enigeen is welkom om die verrigtinge by te woon. Vir meer inligting, kontak adv Koraan by 018 299 4287 per e-pos by rene.koraan@nwu.ac.za.