NWU IT: Van ’n nederige begin tot reuseprestasies

Belinda Bantham -- Mon, 06/10/2019 - 14:12

NWU IT: Van ’n nederige begin tot reuseprestasies

Terwyl dr Cobus van der Walt stadig opstaan, verander die onderlangse gemompel in kamer 305 in ’n stille ontsag.

Die voormalige direkteur van Inligtingstegnologie op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Potchefstroom geniet die tipe bewondering wat gekoester word vir daardie paar mense wat hulle lewe daaraan wy om uitnemendheid na te streef.

Vandag vier die NWU nie net die departement se reuseprestasies deur die jare nie, maar ook die publisering van die boek History of Information & Communication Technology 1967-2003, waarvan dr Van der Walt die mede-outeur is.

Boeta Pretorius, die huidige IT-direkteur verduidelik dat die idee vir die boek in 2013 begin, en in 2015 momentum gekry het. “As alles volgens plan verloop, sal daar ’n tweede uitgawe wees wat die kampus in Mahikeng insluit, en ’n derde een wat 2004 en verder dek.”

ʼn Loopbaan vol avontuur

“Ek het die voorreg gehad om ’n loopbaan vol avonture te beleef,” sê dr Van der Walt. “Ek was die eerste personeellid wat na die SANAE-navorsingsbasis in Antarktika gestuur is, en ek het die weerstasie by Marioneiland besoek.

“Toe kom die avontuur van die rekenaarwêreld. In die 1990’s was dit my voorreg om IT van die rand tot in die hart van die universiteit te lei.”

In die begin...

Op 28 September 1966 het die universiteitsraad die stigting van Inligtingstegnologie by die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys bevestig.

Die eerste rekenaar, ’n IBM 1130, is in Julie 1967 bestel, en dit het ’n “reusagtige” geheue van 32 KB gehad. Dit het ook ’n verwyderbare skyf van 1 MB gehad, en programme is met ’n ponskaart en kaartleser opgelaai. Van toe af, om Bob Dylan te parafraseer, the times they started a changing.

 “Daardie ponskaarte het ’n dag geneem om te verwerk,” onthou Boeta met ’n glimlag. “Dit was ’n uiters omslagtige manier – wagtye is in dae gemeet!”

Tussen 1968 en 1968 is die program vir die universiteit se salarisstelsel geskryf en geïmplementeer, en dit is tot in 1996 só gebruik.

Teen die middel van 1978 was daar ongeveer 200 rekenaargebruikers by die universiteit, teen 1984 het die personeel by IT tot 38 toegeneem.

ʼn Kragtige sentrum van prestasies

Hierdie nederige begin het ontplof in die kragtige sentrum wat IT vandag is. Die departement is in beheer van die 4 000 rekenaars in laboratoriums regoor die NWU, en bedien gelyktydig 14 000 Wi-Fi-gebruikers per dag. Te danke aan IT spog die NWU met die tweede vinnigste internettoegang van enige universiteit in Suid-Afrika.

Daar word ook beweer dat die heel eerste e-pos in Suid-Afrika in 1989 vanaf die NWU aan die Rhodes Universiteit gestuur is. 

Terug na die hede

 

Prof Daryl Balia, adjunk-visekanselier van die kampus in Potchefstroom, sê hy is trots op IT se prestasies. “Dit is klinkklare bewys dat daar departemente en personeel by die NWU is wat hul werk doen omdat dit hul passie is, en nie net vir die salaris nie.”

IT bly verseker in die hart van die NWU, en reguleer die polsslag wat nou feitlike elke denkbare funksie van die universiteit bedien.

Foto: Die geskiedenis van 36 jaar se harde werk. Hierdie boek vier die totstandkoming, groei en prestasies van die NWU se IT-departement.

 

 

Die geskiedenis van 36 jaar se harde werk. Hierdie boek vier die totstandkoming, groei en prestasies van die NWU se IT-departement.

 Boeta Pretorius, dr Cobus van der Walt en prof Daryl Balia glimlag breed tydens die boekbekendstelling.