NWU Ingenieurswese verleen ’n soet, bitter en romerige smaak

Belinda Bantham -- Mon, 06/10/2019 - 09:45

NWU Ingenieurswese verleen ’n soet, bitter en romerige smaak

Finalejaarstudente aan die Skool vir Chemiese en Mineraalingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs die geleentheid gekry om te wys dat hulle kursus veel meer as net neus-in-die-boeke behels.

Dié aspirant-ingenieurs het met mekaar meegeding om te sien wie die beste bier, kaas of sjokolade kon produseer.

Alhoewel dit deel van die jaarlikse kurrikulum vorm om hierdie produkte te produseer, het die Fakulteit Ingenieurswese besluit dat hierdie module nie net by teorie in die lesinglokaal moet stop nie.

Professor Quentin Campbell, direkteur van die Skool vir Chemiese en Mineraalingenieurswese, het self hierdie prettige dag bygewoon om sy ondersteuning aan die studente te toon.

“Die bier-, sjokolade- en kaaskompetisie word aangebied om te wys dat akademiese aktiwiteite nie altyd vervelig hoef te wees nie,” sê prof Campbell. “Ingenieurswese fokus daarop om die studente te bemagtig om teorie wat ons in die klas leer op ’n praktiese manier ten toon te stel. As ’n mens kan pret hê terwyl jy dit doen, soveel te beter.”

Route 96, ’n plaaslike bierbrouery in Potchefstroom, het hulle geriewe vir hierdie funksie aan die fakulteit beskikbaar gestel. Dit was ’n uiters gepaste plek vir die studente om nie net hulle eie bier te vertoon nie, maar ook by professionele boetiekbierbrouers in ons midde te leer.

Marco van Deventer, bestuurder van Route 96, was vreeslik in sy skik met die opkoms van die dag. “Ek sal in die toekoms graag vir die studente ook ’n toer deur ons brouery wil gee voordat hulle hul eie bier begin maak, net om ’n paar wenke vanuit die bedryf met hulle te deel.”

Die dag het afgeskop met studente wat geskarrel het om hulle eie stalletjies volgens die tema van hulle bier te versier. Onder die Chemiese Ingenieurswese-studente is daar van elke groep vereis om ’n bier te brou en twee soorte kaas te maak – ’n harde kaas en ’n sagte kaas.

Die Mineraalingenieurswese-studente se opdrag het hulle na sjokolade en likeur gelei, waar alle interessante kombinasies na vore gekom het.

Die opgewondenheid het hoog geloop toe die beoordelaars gereed gestaan het om elke bier, kaas en sjokolade te beoordeel. Daar was ’n paneel van beoordelaars waar ’n paar bekende Potchefstroom-gesigte uitgestaan het – onder andere Fanie Smit van Garnish spysenieringsdienste, Lukas van Deventer, eienaar van Route 96, en André Swanepoel, verteenwoordiger van die boetiekbiergilde van Potchefstroom.

“Die algemene gevoel van die beoordelaars was dat vanjaar se standaard heelwat hoër was as dié van verlede jaar,” vertel André Swanepoel. “Vanjaar se Chemiese Ingenieurswese-studente het die beoordelaars beïndruk met goeiekwaliteit-bier wat ook uitstekend aangebied is.”

Hy noem ook hoe belangrik dit is om beoordelaars of moderators van buite te betrek. “Die publiek word ook genooi om hulle opinies oor die bier te kom gee. Dit is ’n belangrike proses vir die voortbestaan van die kurrikulum. Ek is verder baie opgewonde oor die bydrae wat hierdie geleentheid tot die kultuur van boetiekbier in Potchefstroom bied.”

Die algehele wenner van die bierbrouery was die span genaamd VaalBrau. Die span het bestaan uit Caitlin van der Merwe, Rainere Cilliers, Kelebogile Chokoe, Albert Hartley, Chanelle-Marié Koen en Leandri Dekker. Hierdie groep finalejaarstudente het ’n Amerikaanse Pale Ale gemaak, wat vir hulle ’n eerste plek verower het. VaalBrau se harde kaas, ’n gorgonzola met drie verskillende geure – ’n brandrissie, ’n appelkoos en ’n vy – het ook met die louere weggestap.

Die John Beer-groep het die prys gewen vir die beste sagte kaas met hulle aanbieding van ʼn peper-Feta. Nikki van Tonder, Marcus Keulder, Schalk Kok en Julian Pretorius is die trotse lede van hierdie groep.

Jonedine van der Merwe en Anel Scheepers het met die eerste prys vir sjokolade en likeur weggestap.

’n Behoorlike “Beer Pong”-liga was natuurlik aan die orde van die dag nadat alle formaliteite afgehandel is, en die studente en die publiek kon die dag saam op ’n hoogtepunt afsluit.

 

Die groep VaalBrau het met die louere vir die beste bier weggestap.

 

Kyk na hierdie video oor die jaarlikse bier- en kaasdag