NWU-ingenieurs is opgewasse vir die COVID-19-uitdaging

Belinda Bantham -- Tue, 04/07/2020 - 15:34

NWU-ingenieurs is opgewasse vir die COVID-19-uitdaging

Die wêreld, en nou meer onlangs ons nasie, het voor moeilike tye te staan gekom namate die onlangse Covid-19-pandemie die lewe soos ons dit ken op sy kop gekeer het. ’n Span by die Fakulteit Ingenieurswese van die Noordwes-Universiteit (NWU), in samewerking met ander kundiges wat by hierdie ontstellende stryd betrokke is, is opgewasse vir die taak om ons regering in sy stryd teen die Covid-19-pandemie te ondersteun.

Hierdie agter-die-skerms-helde is die ontwikkelingspan vir mediese toestelle in die Fakulteit Ingenieurswese. Die span het onlangs vir hierdie onderneming kragte saamgesnoer met die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) en die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT). Hulle skakel ook met die Covid Agile Manufacturing Solution Response Team – ’n aantal goedgeplaaste belanghebbers in die snelvervaardigingsruimte wat op ’n daaglikse basis aanlyn ontmoet met die doel om dringende produkte te ontwikkel wat deur ons gesondheidsorgstelsel benut kan word. Die span sluit individue van akademiese instellings, die snelvervaardigingsbedryf, en ’n aantal dokters in.

Prof Leenta Grobler, een van ons eie kundiges by die NWU, vorm ook deel van die beheerkomitee van die span. Volgens die Suid-Afrikaanse Minister van Gesondheid, dr Zweli Mkhize, het Suid-Afrika reeds ’n gesondheidsorgstelsel wat onder druk verkeer, en as ons nie die Covid-19-pandemie met erns benader nie, gaan die stelsel oorbelas word. Hy het ook sy bekommernisse oor die naderende winterseisoen verduidelik. “Klinieke en hospitale gaan oorval word wanneer die virus tydens die winter na ons reeds brose nasie versprei. Suid-Afrika het nie genoeg mediese voorrade en persoonlike beskermingstoerusting (PPE) om die nasie en die gesondheidsorgwerkers te beskerm nie. Produkte wat in groot aanvraag is, sluit maskers, toetsstelle, handsaniteerders, indringende ventilators, nie-indringende ventilators, hospitaalbeddens en linne in,” sê hy.

Met hierdie bekommernisse in gedagte het die NWU-span en sy medewerkers reeds produkte ontwikkel om die gesondheidsorgstelsel en die gesondheidsorgwerkers te ondersteun wat in die voorste linie is en aan infeksie blootgestel is terwyl hulle hulle bes probeer om hierdie pandemie te hanteer.  Verskeie amptenare in die Potchefstroomse gesondheidsorgstelsel het gevra vir gesigbeskermers, aangesien daar alreeds ’n tekort daaraan is. Die NWU-span, wat deur mnr CP Kloppers gelei word, vervaardig en versprei dus tans gesigbeskermers gratis aan gesondheidswerkers in die gebied rondom Potchefstroom. “Hierdie gesigbeskermers word verskaf as ’n bykomende laag beskerming wat bo-oor bestaande maskers en skermbrille gedra word, aangesien dit die hele gesig van die gesondheidsorgkundige met ’n deursigtige materiaal bedek,” sê prof Grobler.

Beddens vir tydelike hospitale of kwarantynsentrums word gekonseptualiseer met behulp van NWU se ingenieurstudente wat vir vrywilligerhulp aangemeld het.

“Die nasionale Departement van Gesondheid het amptelik alarm gemaak oor die dramatiese tekort aan ventilators in die internasionale en nasionale gesondheidstelsels en ons span ondersoek hierdie gebied met die nodige ywer. Daar is nie genoeg ventilators in hospitale of by enige verskaffer beskikbaar vir al die potensiële pasiënte wat deur die virus aangetas gaan word nie. Ons groep, in samewerking met SUT, werk onverpoosd om hierdie voorrade te vervaardig en na klinieke en hospitale te versprei,” verduidelik prof Grobler.

Sy voeg by dat die belangrikste projek van die span is om die BIRD Mark 7- of 8- meganiese respirator aan te pas sodat dit as noodventilator gebruik kan word. Die span het hierdie bepaalde toestel gekies as gevolg van sy vermoë om sonder elektrisiteit te werk, aangesien dit deur lug aangedryf word – ’n eienskap wat in Suid-Afrika noodsaaklik is. Die doel is om ’n oopbron- 3D-drukbare weergawe van die BIRD- meganiese ventilator te produseer. Die span moet ook van die onderdele opgradeer om te voldoen aan die huidige minimum spesifikasies wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie daargestel word.

“Dit is bemoedigend om te sien hoe die samewerking en kameraderie onder ’n portuurgroep van verskillende instellings en dissiplines tydens hierdie krisis ontwikkel. Verhoudings van hierdie aard tussen verskillende universiteitspanne, klinici en die bedryf sal normaalweg jare duur om te realiseer, maar nou – verenig teen ’n gemeenskaplike vyand en in ’n taak vir die algemene welsyn van mense – het hierdie tydlyn gekrimp, aangesien uiterste maatreëls nodig is,” sluit prof Grobler af.

Navrae: Prof Leenta Grobler

018 299 4058

leenta.grobler@nwu.ac.za

 ’n Bestaande meganiese respirator word aangepas om as noodventilator te dien.

 NWU-ingenieurs vervaardig hierdie gesigbeskermers deur van 3D-druktegnologie gebruik te maak.