NWU gee sy drome vlerke

Belinda Bantham -- Mon, 02/25/2019 - 10:03

NWU gee sy drome vlerke

Spoed, tegnologie, adrenalien en die reuk van rubber is alles deel van die droom van Shaun Botha, ‘n meestersgraadstudent in meganiese ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

By droom sal dit egter nie bly nie, want Shaun is besig om homself met die nodige kundigheid te toe te rus wat sy droom sal verwesenlik om eendag ʼn verskil in die tegnologie van die sportmotorindustrie te maak.

As deel van sy praktiese ervaring tot dusver, was Shaun deel van die befaamde NWU Sonkar-span in 2016, 2017 en 2018. Ingenieurstudente en dosente aan die NWU bou sedert 2012 elke jaar ʼn nuwe sonkar om aan nasionale en internasionale wedrenne deel te neem.

Die jongste weergawe van hul sonkar, die Phoenix, het verlede jaar aan die uitmergelende Sasol Solar Challenge oor ʼn afstand van sowat 4 000 km deelgeneem. In hierdie kompetisie ontwerp en vervaardig spanne van regoor die wêreld sonkragvoertuie om in die agt dae geleentheid regoor Suid-Afrika te ry. Die wedren het op 22 September in Pretoria afgeskop en is in Stellenbosch voltooi waar nege plaaslike en internasionale sonkarre die son, en mekaar gejaag het.

Die NWU se Phoenix het teen vier ander Suid-Afrikaanse spanne en teen mededingers van Japan, Hong Kong, Nederland en Switserland gekompeteer. Hulle het die eindstreep as die tweede Suid-Afrikaanse sonkar oorgesteek om die wedloop in die algehele vyfde plek te voltooi.

Shaun het in 2016 tegniese ondersteuning aan die span gebied, en was tydens die 2017 Bridgestone World Solar Challenge en 2018 Sasol Solar Challenge een van die bestuurders van die voertuig. “Ek is baie passievol oor motorsport. Selfs as ʼn klein seuntjie was ek nog altyd gefassineerd met dié sport. Dit is al wat ek wil doen,” sê Shaun.

Om  teen internasionale mededingers te kon deelneem, was vir hom baie opwindend. Dit is hier waar hy besluit het om sy drome vlerke te gee.

“Vir my meestersgraad doen ek baie navorsing oor laagvervaardiging, wat meer algemeen bekendstaan as driedimensionele drukwerk,” verduidelik Shaun. “Ek het baie ervaring oor vervaardigingstegnieke opgedoen, veral omdat ek met koolstofvesel kon werk. Ek het baie geleer oor die prosedures wat gevolg moet word om so ‘n projek te bestuur en om dit suksesvol te maak.

“Omdat ek op ʼn vinnig-ontwikkelende gebied soos laagvervaardiging studeer, hoop ek om eendag ʼn beroep te volg in die sportmotorvervaardigingindustrie waar ek my passie kan uitleef. Dit sal my wildste droom wees wat tot werklikheid kom,” sê hy.

Shaun het groot waardering en lof vir die kundigheid in die NWU se Fakulteit Ingenieurswese. “Ek het ‘n baie goeie verhouding met my dosente, en twee van die dosente wat betrokke was by die sonkar, is nou my nagraadse studieleiers. Ons verstaan mekaar!

“Die verwagtinge is hoog, maar ek weet watter uitsette ek najaag en dat dit binne my bereik is. Een van die grootste lesse wat my dosente my tot dusver kon leer, is dat harde werk altyd beloon word. Hier leer mens nie net oor ingenieurspraktyke en teorie nie, maar ook oor menseverhoudings en lewensvaardighede. Hierdie is ʼn plek wat my die platform, kennis en vaardighede bied om groter te droom. Ek kan nie wag vir wat die toekoms inhou nie,” sê Shaun.

 

 Shaun Botha droom om eendag in die sportmotorindustrie te kan werk.