NWU gaan gasheer speel vir eerste gesamentlike BRICSCESS en SASMA-konferensie

Belinda Bantham -- Tue, 05/21/2019 - 15:53

NWU gaan gasheer speel vir eerste gesamentlike BRICSCESS en SASMA-konferensie

Volgens die Wêreld Ekonomiese Forum sal die BRICS-ekonomieë in die volgende paar jaar die mededingendste van al die lande wees, en word deur hulle beduidende streeks- en wêreldwye invloed onderskei.

Die gesondheid en welstand van mense is boaan die agenda van hierdie regerings om vinnige ekonomiese groei met ’n beter lewensgehalte te verbind.

Vir die eerste keer in die geskiedenis sal die BRICS-raad vir oefening en sportwetenskap (BRICS Council of Exercise and Sports Science, BRICSCESS) en die Suid-Afrikaanse Sport en Medisyne-vereniging (SASMA) ’n gesamentlike konferensie aanbied, met die Noordwes-Universiteit (NWU) as gasheer.

Die BRICSCESS is gestig ter erkenning van die behoefte om BRICS se spesifieke bekommernisse ten opsigte van die gesondheid en welstand van mense in hierdie streke te hanteer.

Hierdie samewerking sal plaasvind deurdat die eerste wêreldkongres vir toekomstige leiers/vrywilligers (World Congress of Future Leaders/Volunteers, WCFLV) en die tweede BRICSCESS-kongres saam sal fokus op die pad vorentoe vir holistiese gesondheid, sportwetenskap en volhoubaarheid.

Die doel van die konferensie is om lewensgehalte deur fisiese aktiwiteit en sport in veral die BRICS-streke, maar ook in die res van die wêreld, te bevorder. Die konferensie sal ook deur die voorste navorsers op hulle onderskeie gebiede ondersteun word deurdat hulle bewysgebaseerde uitkomste in sportwetenskap en medisyne sal deel.

Die doel van BRICSCESS is om kommunikasie, interaksie en samewerking onder alle akademiese instellings, navorsingsinstellings, universiteite, navorsers en studente op die gebied van oefening wat met oefening- en sportwetenskap verband hou, en in opvoedkundige, wetenskaplike en navorsingsinstellings in die BRICS-lande te bevorder. BRICSCESS wil in die besonder kommunikasie onder jong navorsers, toekomstige leiers en studente in die BRICS-lande bevorder en fasiliteer.

Volgens die NWU se prof Hans de Ridder en voorsitter van BRICSCESS, sal die konferensie van 8 tot 11 Oktober 2019 in Kaapstad gehou word. Die tema van die geleentheid sal “Holistic Health, Sports Science and Sustainability: The Way Forward” wees.

 “Dit sal ’n eerste vir Afrika wees, en dit is inderdaad ’n groot eer dat hierdie werklik wêreldwye gebeurtenis deur my eie instelling, die NWU, geborg word,” sê hy. “Ons is baie geëerd om die tweede land in die BRICS-familie te wees om hierdie BRICSCESS-wêreldkonferensie aan te bied. BRICSCESS 2019 en WCFLV 2019 beloof om wonderlike gebeurtenisse te wees en ook ’n ervaring wat vir baie jare wat voorlê in ons herinneringe sal voortleef.”

Ses-en-twintig internasionaal-erkende sprekers en afgevaardigdes van 23 lande en streke wêreldwyd sal hierdie jaar teenwoordig wees. Die konferensie, wat drie-en-’n-half dae sal duur, is beplan om diepsinnige groepsessies met interaksie tussen kollegas en impromptu dialoog in informele omstandighede te kombineer.

Vir meer inligting en om die voorlopige program van hierdie konferensie te sien, besoek asseblief http://sasmabricscess2019.co.za/.