NWU gaan biochemici vir internasionale konferensie huisves

Marelize Santana -- Thu, 07/05/2018 - 09:43

NWU gaan biochemici vir internasionale konferensie huisves

Die Noordwes-Universiteit (NWU) gaan van 8 tot 11 Julie die 26ste tweejaarlikse konferensie van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Biochemie en Molekulêre Biologie (SASBMB), in samewerking met die Federasie van Verenigings vir Biochemie en Molekulêre Biologie in Afrika (FASBMB), aanbied.

Die vierdagkonferensie sal ’n groot getal vermaarde nasionale en internasionale spesialiste, navorsers en akademici huisves, insluitend invloedryke persone soos prof Jeremy Nicholson van die Imperial College in Londen, en prof Valerie Mizrahi van die Universiteit van Kaapstad, die wenner van die MNR se platinummedalje in 2017.

Prof Francois van der Westhuizen, voorsitter van die organiseringskomitee, sê dat almal wat in biochemie en molekulêre biologie belangstel, welkom is om die hoofsessies by te woon. Dit sal in die Sanlam Ouditorium op die NWU se kampus in Potchefstroom plaasvind. Afgevaardigdes het reeds geregistreer vir die parallelle sessies, wat in verskeie lokale op die kampus sal plaasvind.

Afgevaardigdes sal sessies bywoon wat op die vier temas van die konferensie fokus. Dit is menslike siektes, biologiese stelsels, strukturele, sellulêre en molekulêre biologie en terapie, en biotegnologie.

As deel van hierdie temas sal 12 onderwerpe tydens die konferensie bespreek word. Dit sluit in besmetlike siektes, nie-oordraagbare siektes, inflammasie en immuniteit, selbiologie, en die ontdekking van geneesmiddels en medisinale plante.

“Die konferensie is vir 26 punte vir voortgesette professionele ontwikkeling (VPO) geakkrediteer. Dit is ’n ideale geleentheid vir kundiges om VPO-punte te verdien om hulle vereiste jaarlikse punte te behaal,” sê Francois.

Die SASBMB-FASBMB-konferensie word net elke ses jaar in hierdie formaat aangebied, en dit is ’n wonderlike platform vir studente om meer oor die diversiteit van navorsing oor biochemie en molekulêre biologie uit te vind, en vir navorsers en die bedryf om netwerke te vorm.

Vir meer inligting oor hierdie opwindende konferensie, skakel Francois by 018 299 2318, of besoek www.sasbmb-fasbmb2018.com om die program te sien.