NWU en TSA span saam vir die heel eerste multi-oppervlak-gerief in Suid-Afrika

Belinda Bantham -- Tue, 02/26/2019 - 16:19

NWU en TSA span saam vir die heel eerste multi-oppervlak-gerief in Suid-Afrika

Die Noordwes-Universiteit (NWU) gaan die eerste eenstopgerief vir alle tennisspelers en ‑entoesiaste word. Die universiteit is in die ontwikkelingsfase om sy tennisgeriewe by die Hoëprestasie-instituut in Potchefstroom met nuwe multi-oppervlak klei-, gras- en harde bane op te gradeer.

Daar is net twee kleibane in Suid-Afrika in privaat besit, en heelwat spelers het nie toegang daartoe nie. Ná voltooiing sal die instituut die enigste gerief in die land wees wat vyf kleibane, twee grasbane en 10 harde bane het wat vir nasionale en internasionale tennisspelers toeganklik is.

Volgens Sheldon Rostron, die NWU se sportbestuurder, word ’n aantal toernooie in Afrika op kleibane gespeel, en die NWU het die belangrikheid besef om hierdie geriewe vir sy studente en eksterne tennisspelers beskikbaar te hê.

Hierdie projek, wat ’n groot infrastruktuurbelegging is, sal deur die universiteit befonds word. Die opgradering sal binnekort begin, en daar word verwag dat dit in Junie hierdie jaar voltooi te wees.

’n Vennootskap met Tennis Suid-Afrika

Die NWU, Riaan Venter Tennis Akademie en Tennis Suid-Afrika (TSA) het op 26 Februarie die ontwikkelingsprojek van die tennisgerief bekendgestel. Die Riaan Venter Tennis Akademie bied saam met die NWU verskeie Internasionale Tennisfederasie-juniortoernooie aan. As deel van die nuwe projek het die universiteit ’n vennootskap met TSA gesluit en sal aan hulle toegang tot die bane verleen om hulle spelers af te rig. TSA sal ook sy kleibaan- Junior Meesterstoernooie, die junior nasionale kleibaanafdeling se afrigtingskampe, en spesialis- TSA-geakkrediteerde kleibaanafrigtingskursusse vir geregistreerde afrigters by die nuwe gerief aanbied.

 “Die gebrek aan kleibane in Suid-Afrika word al jare lank as ’n kritieke swak punt in ons tennis genoem. Vandag se aankondiging is ’n betekenisvolle stap in die hantering van daardie kwessie. Ons beste jong spelers sal nou gereeld op hierdie oppervlak kan oefen en speel,” sê die TSA se hoof- uitvoerende beampte, Richard Glover.

“Ons wil graag die NWU bedank vir die vertroue wat hulle met hierdie betekenisvolle infrastruktuurbelegging in tennis in Suid-Afrika plaas. Ons het ’n uiters positiewe werksverhouding met die universiteit opgebou en sien daarna uit om saam te werk om hierdie nuwe gerief ’n belangrike spilpunt vir hoëprestasietennis in Suid-Afrika te maak,” het Richard gesê.

Die NWU sien daarna uit om die voordele te benut wat hierdie nuwe geriewe sal bring.

Agter van links is Scheldon Rostron, NWU sportbestuurder, Helene Botha, bestuurder vir vrouesport, Richard Glover, hoofuitvoerende beamte van Tennis SA en Riaan Venter, stigter van die Riaan Venter-tennisakademie. Voor is prof Rikus Fick, direkteur van studentelewe in Potchefstroom, Gavin Crookes, president van Tennis SA, prof Daryl Balia, die NWU se adjunk-visekanselier in Potchefstroom en Kgothatso Montjane, die wêreld se sesde beste rolstoel-tennisspeler.