NWU en Go Purple Foundation bemagtig gemeenskap om kindermishandeling te voorkom

Die Kersseisoen is hier en waar party mense uitsien na verlof of ʼn rustiger tyd by die kantoor, is dit vir ander beroepe die besigste tyd van die jaar – veral vir maatskaplike werkers en lede van die SAPD.

Anneri du Plessis van die Go Purple Foundation, ʼn nie-regeringsorganisasie, en dr Elmien Truter, ʼn maatskaplike werker, dosent en navorser van die Departement Maatskaplike Werk van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark, het onlangs ʼn opleidingsessie aangebied waartydens vrywilligers en lede van die SAPD bemagtig is om kindermishandeling te hanteer.

Oë en ore in die gemeenskap

Hoe weet jy of ʼn kind mishandel word? Wat doen jy wanneer jy vermoed ʼn kind is in gevaar? Hierdie vrae is met vrywilligers uit die gemeenskap bespreek en antwoorde is verskaf na aanleiding van die Kinderwet (38/2005) en maatskaplike riglyne.

Daar is na Artikel 28 van die Grondwet gekyk en saam gesels oor wat dit beteken om ʼn versorger (caregiver) te wees, wat die grondwetlike regte van ʼn kind is en wat ʼn persoon se verantwoordelikheid as ouer, grootouer of pleegouer is.

Artikel 150 van die Kinderwet (38/2005) is ook aangehaal om te verstaan wanneer ʼn kind sorgbehoewend is, om die rolspelers te help verstaan hoe ʼn gesonde kind moet lyk en versorg behoort te word, en hoe om te weet wanneer daar fout is. ʼn Voorbeeld is gegee van ʼn kind met baie bloukolle: hoewel baie bloukolle nie noodwendig beteken ʼn kind word fisies mishandel nie, kan verskillende bloukolle van vele skakerings van blou (wat dui op ouer en nuwer insidente wat oor ʼn tydperk plaasgevind het), ʼn aanduiding van mishandeling wees.

Sê nou ek rapporteer dit en daar is nie fout nie?

Daar is aan die vrywilligers verduidelik waarom dit (ingevolge Artikel 110 van die Kinderwet, 38/2005 en ingevolge die Wysigingswet van artikel 54 van die Strafreg – seksuele misdrywe en verwante aangeleenthede, 32/2007), noodsaaklik is om enige vermoede van kindermishandeling te rapporteer. Behalwe vir die gevaar waarin ʼn weerlose kind moontlik kan verkeer, is daar ook die moontlikheid van ʼn boete en tronkstraf vir ʼn persoon wat daardie tipe inligting van die polisie of maatskaplike werkers weerhou.

Die vrywilligers is ook opgelei om Vorm 22 – die amptelike vorm van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling wat ingevul moet word om ʼn vermoede van kindermishandeling te rapporteer – korrek te voltooi. Die vorm kan anoniem ingevul word en iemand wat mishandeling aanmeld kan nie volgens wet vervolg word nie, mits dit met redelike oortuiging of vermoede in goede trou aangemeld is. Die vorm is beskikbaar by NG Welsyn, FAMSA, RATA Social Services, Kindersorg Suid-Afrika en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling. ʼn Voorval of ʼn vermoede van kindermishandeling kan ook by enigeen van hierdie kantore aangemeld word.

Verwydering van ʼn kind in ʼn noodsituasie

Die tweede deel van die werkswinkel is slegs deur lede van die SAPD bygewoon, aangesien ʼn kind net deur ʼn polisiebeampte of ʼn statutêre aangewese maatskaplike werker in ʼn noodgeval uit ʼn situasie van gevaar verwyder kan word.

Dié deel van die werkswinkel het gehandel oor die praktiese implikasie van so ʼn taak: wat om vir die kind te sê en wat om te doen met ʼn kind wat huil of fisiese teenkanting toon. In so ʼn geval moet die SAPD-lid reeds ʼn plek van veiligheid gereed hê waar die kind geplaas kan word. ʼn Goeie verhouding met ʼn maatskaplike werker kan hierdie proses fasiliteer deur kontak met plekke van veiligheid, maar ook deur middel van die plek van veiligheid-evaluasieverslag. Die noodsaaklikheid van Vorm 36 is met behulp van ʼn gevallestudie met die SAPD-lede bespreek. Enige foute op dié vorm kan die saak beïnvloed ten tye van die hofsaak en kan daartoe lei dat ʼn kind terugplaas word in ʼn omgewing van mishandeling op grond van ʼn tegniese fout.

Dr Truter se navorsing bestudeer spesifiek die veerkragtigheid van statutêre maatskaplike werkers wat ʼn hoë risiko van uitbranding in die gesig staar. Hierdie risiko is te wyte aan die stresfaktore wat met hulle werk geassosieer word.

“Die bemagtiging van ander rolspelers in die gemeenskap en die SAPD maak die statutêre maatskaplike werker se hande sterk,” reken dr Truter. “Op die ou einde kan ons ʼn beter diens aan ons kliënte – weerlose kinders – lewer.”

Die NWU en die Go Purple Foundation het onlangs ʼn opleidingsessie aangebied waartydens vrywilligers en lede van die SAPD bemagtig is in die hantering van kindermishandeling.

 

Submitted on Thu, 12/07/2017 - 10:56