NWU eindig vyfde in resies teen die son

Belinda Bantham -- Mon, 10/01/2018 - 14:24

NWU eindig vyfde in resies teen die son

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se sonkar, Phoenix, het onlangs na eie bodem teruggekeer ná ‘n uitmergelende resies oor 4 000 km tydens vanjaar se Sasol Solar Challenge.

Vir hierdie agt dae lange geleentheid ontwerp en vervaardig spanne van regoor die wêreld sonkragvoertuie om regoor Suid-Afrika te ry.

Die tog het op 22 September in Pretoria afgeskop en is onlangs in Stellenbosch voltooi, waar nege plaaslike en internasionale sonkarre die son, en mekaar gejaag het.

Die Phoenix het teen vier ander Suid-Afrikaanse spanne en teen mededingers van Japan, Hong Kong, Nederland en Switserland gekompeteer. Hulle het die eindstreep as die tweede Suid-Afrikaanse sonkar oorgesteek, en het die wedloop in die algehele vyfde plek afgesluit.

Die spanne het meegeding om die langste afstand af te lê deur elke dag ʼn bepaalde roete te volg. Hulle het ook by elke dag se bestemming bykomende korter rondtes voltooi met die krag wat hulle in hul batterypakke oorgehad het.

Volgens Arno de Beer, die NWU se tegniese bestuurder, het die span in moeilike omstandighede 'n ywerige en geesdriftige vertoning gelewer. Hy baie trots op hul prestasies. “Sterk winde en bewolkte weer, saam met Erfenisdag-verkeer, het spanne op die agtervoet gehad. Ons kon nie op ons 2016-vertoning van 3 524 km verbeter nie, maar het nog steeds 'n afstand van 2 276 km afgelê,” sê hy.

“Ons het ons vorige sonkar, die Naledi (wat aan die 2018 Bridgestone World Solar Challenge deelgeneem het) herbou, maar geluk was nie vanjaar aan ons kant nie. Ons het op die eerste dag van die wedloop 'n slaggat getref wat skade aan die voor- en agtervering van die motor aangerig het.”

Arno sê sterk winde het 'n groot impak op die motor se prestasie gehad. “As jy in ag neem dat die motor slegs 189 kg weeg, neem dit nie veel van die wind om vir ons moeilike te gee nie.

“Ek wil graag ons hoofborge, die Technology Innovation Agency en Growthpoint, te bedank. Sonder hulle bystand  sou ons nie aan dié kompetisie kon deelneem nie.”

Die Nederlandse Nuon Solar-span het die 2018 Sasol Solar Challenge se Challenger-klas vir die derde agtereenvolgende jaar gewen. In die tweede plek was Japan se Tokai Universiteit met die Switserse Solar Energy Racers in die derde plek.

Ten spyte van verskeie terugslae, het die NWU se sonkar, Phoenix, goed presteer tydens vanjaar se Sasol Solar Challenge.