NWU-duo wen 24-uur hackathon-kompetisie

Belinda Bantham -- Mon, 06/10/2019 - 10:02

NWU-duo wen 24-uur hackathon-kompetisie

Matt Lourens en Dehan Opperman, twee studente van die Noordwes-Universiteit (NWU), het bewys dat hulle die room van die oes is wanneer dit by statistiek, programmering en wiskunde kom.

Die twee, wat onderskeidelik aan hulle meestersgraad in Besigheidsanalise en Data-Ontginning werk, het onlangs die eerste plek behaal in die tweede MiWay 24-hours Actuarial Hackathon-kompetisie.

Tydens hierdie jaarlikse kompetisie gebruik 25 studente van verskillende universiteite regoor die land datawetenskap of aktuariële wetenskappe om ’n versekeringsverwante probleem op te los.  

 “Dit voel onwerklik dat ons die kompetisie gewen het – dit voel steeds asof ons ons die hele ding verbeel het,” sê Dehan. “Die eerste plek wat ons behaal het, is die versiersel op die koek. Die kompetisie was ’n wonderlike ervaring, en ons het die geleentheid gehad om met fantastiese mense saam te werk.”

24 uur se bloed, sweet, en geluk

Met behulp van ’n kombinasie van wiskunde- en statistiekmodelle moes die deelnemers goeie oplossings uitwerk wat die versekeraar kan help om die koste van eise vir voorruite te skat.

Elke span kon hulle resultate vier keer per uur indien. “Daar was ’n lewendige telbord wat al die mededingers se resultate getoon het. In daardie 24 uur het ons op en af met die telbord beweeg, tot met ons laaste voorlegging, wat ons in die eerste plek geplaas het,” vertel Dehan.

Toe hy gevra is oor die moeilikste deel van die kompetisie, het Dehan gesê dat dit was ’n stryd om die kompetisie te begin, aangesien nie een van hulle ervaring in die versekeringsbedryf gehad het nie.

 “Ons het uiteindelik ons voete gevind nadat ons ’n paar insiggewende gesprekke met die MiWay-span gehad het oor wat hulle van ons wou hê.”

Hy sê dat netwerking met die ander studente en die versekeraar se span oor statistiek en wiskunde van die wonderlikste oomblikke in die kompetisie was. “Nog ’n ‘a-ha'-oomblik vir ons was toe ons besef het ons kan ons statistiek-, wiskunde- en programmeringsvaardighede op verskillende velde toepas.”

Die twee het met ’n kontantprys van R20 000 weggestap, wat hulle sedertdien tussen hulle verdeel het.

 Matt Lourens en Dehan Opperman is die wenners van die MiWay 24-hours Actuarial Hackathon-kompetisie.