NWU dra by tot gradering van SA-jeug se gesondheid

Marelize Santana -- Wed, 05/24/2017 - 17:08

NWU dra by tot gradering van SA-jeug se gesondheid

Kinders in Suid-Afrika is steeds in die moeilikheid. Dit het duidelik geblyk tydens die bekendstelling van die Gesonde Aktiewe Kinders SA Verslagkaart, Woensdag 24 Mei in Johannesburg. Dié verslagkaart word onder leiding van Discovery Health en die Sportwetenskaplike Instituut van Suid-Afrika saamgestel, en die NWU het ʼn beduidende rol in hierdie proses gespeel.

Die kundigheid van Prof Andries Monyeki en prof Anita Pienaar, beide van die navorsingsentiteit Fisiese Aktiwiteit, Sport en Rekreasie (PhASRec), saam met prof Salomé Kruger van die Sentrum vir die Uitnemendheid van Voeding (CEN), het ʼn groot bydrae gelewer.

Vetsug onder kinders is aan die toeneem met 25% wat oorgewig is en 10% wat aan vetsug ly. Hierbenewens is fisiese aktiwiteit sowel as fisiese fiksheid aan die afneem, en val meer as 50% kinders onder die aanvaarbare vlakke. Nóg ʼn punt van kommer is dat meer as 80% van Suid-Afrikaanse kinders vetterige kosse en versoete drinkgoed inneem.

Suid-Afrikaanse kinders het ʼn algehele C-gradering (40%-49%) ontvang, wat daarop dui dat daar tog ʼn mate van sukses behaal is met die implementering van ʼn gesonde, aktiewe leefstyl in die helfte van die Suid-Afrikaanse bevolking onder die ouderdom van 17.

Dit is egter nie genoeg nie.

Die verslag maak gebruik van ses graderings (A, B, C, D, F, I), en weerspieël die beste beskikbare wetenskaplike resultate van die afgelope vyf jaar wat fisiese aktiwiteit en gesonde eetgewoontes van Suid-Afrikaanse kinders en jeug betref.

Die verslag neem ook inligting wat vir vorige verslae in 2007, 2010 en 2014 ingesamel is, in ag. Dit analiseer ook of kinders en die jeug aan die aanbevelings voldoen en poog om die faktore uiteen te sit wat daartoe bydra dat gesonde keuses makliker gemaak word. Die 2016-verslagkaart gee nege fisiese aktiwiteit-aanwysers weer. Dit sluit in algehele fisiese aktiwiteitsvlakke, deelname aan georganiseerde sport, aktiewe buitemuurse speeltyd en groente- en vrugte-inname.

Die verslag toon verder dat kitskos-inname steeds toeneem en dat die kitskosbedryf teen ’n verstommende tempo groei. Die afgelope vyf jaar het die aantal maandelikse kitskosgebruikers met 10 miljoen toegeneem en met die gemiddelde jeugdige wat 11 keer ’n week kitskos eet.

Op ’n positiewe noot is die nasionale voedingsprogram besig om vrugte af te werp.

 
Prof Andries Monyeki.   Prof Anita Pienaar.