NWU doen sy deel om die kwaliteit van medisyne te beskerm

Marelize Santana -- Tue, 11/26/2019 - 10:04

NWU doen sy deel om die kwaliteit van medisyne te beskerm

Die Noordwes-Universiteit (NWU) streef nie net daarna om gehalte-onderwys in ’n Suid-Afrikaanse konteks te bied nie, maar is ook vasbeslote om sy kundigheid verder in die wêreld te laat strek.

Die NWU se Fakulteit Gesondheidswetenskappe het drie jaar gelede deur sy Wêreldgesondheidsorganisasie se samewerkingsentrum vir die kwaliteitsversekering van medisyne (WHO-CC) met ’n regulatoriese versterkingsprojek begin om die nasionale kwaliteitsbeheerlaboratorium vir geneesmiddels (NDQCL) van die Zambiese reguleringsowerheid vir medisyne (ZAMRA) te ontwikkel en uit te bou.  

Gedurende hierdie tydperk het die WHO-CC ’n aantal kortkursusse aangebied wat daarop gerig was om die kapasiteit en goeie vervaardigingspraktyke van ZAMRA se NDQCL en inspekteurs te verbeter. Hierdie inisiatief is deur die Europese Unie as deel van die versterkingsprogram van sy gesondheidstelsels finansieel ondersteun.

Ná drie jaar van harde werk het die 26 Zambiërs wat dit bygewoon het, die eerste vrugte van hulle toewyding gepluk toe hulle onlangs tydens ’n luisterryke erkenningseremonie hulle sertifikate van die NWU ontvang het.

Dr Marius Brits, direkteur van die WGO se samewerkingsentrum, sê dat dit ’n groot eer is om die harde werk en toewyding te erken van hierdie deelnemers wat die kortkursusse suksesvol voltooi het.

“Dit is werklik bevredigend om te weet dat ons ’n verskil maak, nie net deur opleiding en die verskaffing van hulp in die daarstelling van riglyne en spesifikasies van gehalte nie, maar ook in die lewens van miljoene mense wat daagliks medisyne neem.”

Die erkenningseremonie het op 15 November by die Neelkanth Sarovar Premiere Hotel in Lusaka, Zambië plaasgevind. Verskeie senior lede van die ZAMRA-personeel en die Zambiese ministerie van gesondheid was onder die geëerde gaste wat die seremonie bygewoon het.

Ses-en-twintig personeellede van die Zambiese medisynereguleringsowerheid het onlangs hulle sertifikate ontvang vir kortkursusse wat hulle tydens ’n samewerkingsinisiatief tussen die Noordwes-Universiteit se WHO-CC, ZAMRA en die Europese Unie voltooi het.