NWU daag die gendergaping in ingenieurswese uit

Marelize Santana -- Thu, 06/20/2019 - 08:20

NWU daag die gendergaping in ingenieurswese uit

Die oorheersing van mans op die gebied van ingenieurswese is steeds ’n sigbare en ontstellende feit. Ten spyte van ’n verbetering die afgelope paar jaar, is daar steeds ’n ernstige tekort aan vroue wat ’n loopbaan in ingenieurswese volg. Die Noordwes-Universiteit (NWU) beoog om dit te verander – een semester op ’n keer …

Die afgelope paar jaar het die NWU se Fakulteit Ingenieurswese deur sy verskillende inisiatiewe heelwat fokus op vroue in ingenieurswese geplaas.

Volgens prof Leenta Grobler, ’n senior lektor in die Skool vir Elektriese, Elektroniese en Rekenaaringenieurswese, sal die fakulteit voortgaan om dit te doen deur die vierde jaarlikse Femmegineering-viering op Saterdag 3 Augustus 2019 aan te bied.

Indien jy ’n graad 10, 11 of 12 meisie is wie se wiskunde- en wetenskappunte jou moontlik kan laat kwalifiseer om ingenieurswese te studeer, word jy genooi om aansoek te doen om die jaarlikse Femmegineering-viering op die NWU se kampus in Potchefstroom by te woon.

“Kom ervaar hoe vroue die wêreld deur wetenskap en tegnologie verander en begin om jou eie toekoms te vorm,” sê prof Grobler. “As jy ’n vrou is wat daarin belangstel om ’n loopbaan in ingenieurswese te volg, wees verseker dat die geleenthede by jou sal kom aanklop. Die Femmegineering-viering kan dalk net die oomblik van inspirasie wees wat jy nodig het.”

Ruimte is beperk, dus word keuring vir bywoning op punte vir wiskunde en wetenskap, plus ’n motivering, gegrond. Jou aansoek waarborg nie jou bywoning nie. Suksesvolle aansoekers sal ’n e-pos of SMS ontvang.

Kontak Annika Pretorius by a.pretorius0512@gmail.com vir meer besonderhede, of besoek hierdie skakel om te registreer: http://iqi.su/cVsVb