NWU bring hulde aan sy ikone

Marelize Santana -- Mon, 10/14/2019 - 08:04

NWU bring hulde aan sy ikone

Die Noordwes-Universiteit het op 11 Oktober tydens ’n toekenningseremonie in Sandton aan ’n paar van sy merkwaardigste alumni hulde gebring.

Die universiteit se gesogte Alumnitoekennings vir Uitnemendheid het in agt kategorieë erkenning gegee aan nege prominente Alumni wat professioneel uitgeblink het in hulle onderskeie kundigheidsvelde, en wat nasionaal en internasionaal voortreflike bydraes tot die samelewing gemaak het.

Hierdie jaar se ontvangers van die toekennings het ’n musiekpromotor, ’n dinamiese entrepreneur, ’n voorstander van gehalte-onderwys, ’n baanbreker wat maatskaplike verantwoordelikheid in aksie omsit, ’n invloedryke leier in opvoedkunde, ’n ervare sielkundige profileerder, ’n vermaarde navorser, ’n sportikoon, en ’n dinamiese en veelsydige sosialemediabeïnvloeder ingesluit.

Wenners van die Alumnitoekennings

  • Mnr Johan van Rensburg, musiekpromotor en televisievervaardiger, Toekenning vir Kuns en Kultuur
  • Me Maggy-Emilia Maliti-Ntshwe, ’n dinamiese entrepreneur, Toekenning vir Sakeleierskap
  • Mnr Frederik Louw, ’n gerespekteerde opvoeder wat gehalte-onderwys bevorder, Toekenning vir Gemeenskapsbetrokkenheid
  • Mnr Pieter Twine, ’n dinamiese fondsinsamelaar wat maatskaplike verantwoordelikheid in aksie omsit, Toekenning vir Gemeenskapsbetrokkenheid
  • Prof Mamokgethi Phakeng, invloedryke leier in opvoedkunde en universiteitsvisekanselier in Suid-Afrika, Toekenning vir Opvoedkunde
  • Me Elmarie Myburgh, ervare sielkundige profileerder vir die Suid-Afrikaanse Polisie, Toekenning vir Openbare Diens
  • Prof Alta Schutte, NWU-navorser in die stryd teen hipertensie, Toekenning vir Navorsing
  • Caster Semenya, internasionale sportikoon en houer van wêreldrekords, Toekenning vir Sport
  • Me Nomsa Mazibuko, dinamiese en veelsydige sosialemediabeïnvloeder, Toekenning aan Jong Alumnus

 

(Volledige besonderhede van elke ontvanger en foto’s is beskikbaar op http://www.nwu.ac.za/af/nwu-vereer-uitnemendheid)

Die gesogte NWU Alumnitoekennings is vir die sesde keer aan verdienstelike alumni toegeken. Vorige ontvangers sluit in gerespekteerde Suid-Afrikaners soos mnr FW de Klerk, prof Anis Karodia, regter Yvonne Mokgoro, dr Bismark Tyobeka, prof Pieter Stoker, Katlego Maboe, regter Frans Kgomo en prof TT Cloete.

Stel mense in staat om uit te styg

Prof Kgwadi het gesê dat die Noordwes-Universiteit deur sy onvermoeide verbintenis tot uitnemendheid en innovasie in al sy werk met ’n gesonde hartklop spog. “Ons verbintenis tot ons studente was nog nooit sterker nie. Ons universiteit – u universiteit – floreer.”

Hy het gesê dat die NWU ’n impak maak. “Die universiteit het onlangs nuwe hoogtes bereik toe die Times Higher Education World Rankings aangekondig het dat die NWU in die vyfde plek op die ranglys vir Suid-Afrika geplaas is.”

Hy het gesê dat die NWU wêreldwyd tussen nommer vyf honderd en een (501) en ses honderd (600) uit die een duisend drie honderd ses en negentig (1 396) deelnemende universiteite op die ranglys geplaas is. Hierdie posisie is op die volgende prestasie-aanwysers gegrond: onderrig-leer, navorsing, aanhalings, internasionalisering en bedryfsimpak.

Hy het die NWU se talle suksesverhale beklemtoon, wat die feit insluit dat die program vir Geoktrooieerde Rekenmeesterskap vir die tweede agtereenvolgende jaar as die beste in Suid-Afrika aangewys is, die NWU se innoverende navorsing, prestasies op sportgebied, en die meer as 250 gemeenskapsbetrokkenheidsprojekte wat op al drie kampusse plaasgevind het.

Hy het gesê dat die NWU se nuwe strategie en organisasiestruktuur, wat die afgelope twee jaar ingestel is, die instelling sterker en ’n meer verenigde universiteit gemaak het.

“Noudat ons strategie en struktuur gefinaliseer is, gebruik ons dit as grondslag vanwaar ons waarde sal skep deur mense te bemagtig om uit te styg: om hoër en verder te gaan in hulle nastrewing van hulle doelwitte.”

Uitgereik deur NWU Koporatiewe Verhoudinge en Bemarking

Navrae: Willie du Plessis, kommunikasiepraktisyn: 082 590 0692.