NWU-borgskap sal MSSA se aanlyn skoleliga nuwe energie gee

Belinda Bantham -- Wed, 07/24/2019 - 12:50

NWU-borgskap sal MSSA se aanlyn skoleliga nuwe energie gee

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se verbintenis tot innovasie transformeer nie net die Suid-Afrikaanse hoëronderwyslandskap nie, maar ook die reikwydte en impak van e-sport. Laasgenoemde verwys na die immer groeiende mededingende speletjietoneel.

Die universiteit het onlangs aangekondig dat dit ’n hoofborg vir Mind Sports Suid-Afrika (MSSA) se gewilde aanlyn skoleliga sal wees. Die liga, wat as die NWU MSSA Online School League bekend sal staan, spog tans met meer as 60 geaffilieerde skoolklubs en het al ver gevorder sedert die stigting daarvan nege jaar gelede.

Die borgskap en samewerking met MSSA het aan die NWU ’n vindingryke manier gegee om voornemende studente te bereik, terwyl daar terselfdertyd vir die Suid-Afrikaanse skolesektor ten opsigte van die tegnologiese gereedheid van leerders waarde toegevoeg word. Die borgskap sal sorg dat die liga vir die eerste keer ooit in ’n posisie sal wees om aan lede ander erkenning as net die tradisionele medaljes en provinsiale kleure te gee.

’n Beurs ter waarde van R30 000 is vir die wenner van die StreetFighter V-e-sporttitel beskikbaar gestel, terwyl prysgeld van R10 000 aan die skool van die wenner van die Paladins-e-sporttitel toegeken sal word. Prysgeld ter waarde van R10 000 sal ook aan die skool van die wenner van die DotA 2-e-sporttitel toegeken word.