NWU bied tweede simposium oor outisme aan

Marelize Santana -- Tue, 05/16/2017 - 08:56

NWU bied tweede simposium oor outisme aan

Outisme tas een uit 68 kinders aan, en hoe gouer dit gediagnoseer word, hoe meer doeltreffend kan dit bestuur word. Die Instituut vir Sielkunde en Welstand op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Potchefstroom help om bewustheid te bevorder deur sy tweede simposium oor outisme aan te bied.

Dit sal op 29 en 30 Junie by die Dawie du Plessis-lesingsaal aangebied word en fokus op bewustheid van outisme en die teweeg bring van verandering.Hierdie jaar se simposium volg op die uiters suksesvolle 2016-simposium vir gesondheidsorgverskaffers, opvoeders, maatskaplike werkers en ouers. Volgens Hanlie Degenaar, spraak- en taalterapeut by die NWU, het die groot getal aansoeke om registrasie wat vir verlede jaar se simposium ontvang is, die behoefte aan hierdie belangrike simposium bevestig.

Die 2017-simposium, wat die NWU en Outisme Suid-Afrika saam aanbied, is nog ’n geleentheid vir belanghebbers om byeen te kom om met kundiges kontak te maak, kennis met hulle te deel en van hulle te leer.

Kundige sprekers, wye spektrum onderwerpe
Die indrukwekkende lys kundiges sluit in Sandra Usswald, nasionale direkteur van Outisme Suid-Afrika; dr David Griessel, pediatriese en neuro-ontwikkelingspesialis; dr Carla Groenewald, spesialis kinder- en adolessentpsigiater; prof Juan Bornman, direkteur van die Sentrum vir Aanvullende en Alternatiewe Kommunikasie; Thembeka Mnguni, ’n ouer en gewilde deelnemer aan The Voice 2016; Christel van Eeden, uitvoerende direkteur van Noordwes Geestesgesondheid; Marie Schoeman, hoofonderwysspesialis vir inklusiewe onderwys van die Departement van Basiese Onderwys; SA Guide Dogs, en Thando Makapela, streeksontwikkelingsbeampte by Outisme Suid-Afrika. Daar sal ook talle spesialiste en navorsers van verskeie universiteite in Suid-Afrika asook ouers wees.

Onderwerpe wissel van oorsake, meganismes, behandelings, akkommodasiestrategieë en bemagtiging tot kommunikasiewenke, mensspeletjies en roetines.

Outismespektrumversteuring (OSV) en outisme is algemene terme vir ’n groep komplekse versteurings in breinontwikkeling. OSV is ’n ontwikkelingsgestremdheid en mense met OSV kan kommunikeer, interaksie hanteer, optree en leer op maniere wat van dié van die meeste ander mense verskil.

Die leer-, dink- en probleemoplossingsvermoëns van mense met OSV kan van begaafd tot ernstig ingekort wissel. Sommige mense met OSV het hoë steun nodig (baie hulp en intensiewe intervensie), terwyl ander lae steun nodig het.
Daar word geglo dat die getal kinders wat aangetas word, besig is om toe te neem. OSV-simptome word baie vroeg by kinders waargeneem, en daar word wyd aanvaar dat vroeë intervensie beter is.

Vir meer inligting, kontak die NWU se Instituut vir Sielkunde en Welstand by 018 299 1739 of stuur ’n e-pos aan hanlie.degenaar@nwu.ac.za.


Outisme Suid-Afrika gebruik die kleur blou vir al hulle veldtogte en pas so by die internasionale bewusmakingspogings aan. Onder andere is ’n blou tee as deel van die bewusmakingsgebeurtenisse aangebied.