NWU bied geslaagde Waardeer jou Omgewing-veldtog aan

Belinda Bantham -- Mon, 04/16/2018 - 14:54

NWU bied geslaagde Waardeer jou Omgewing-veldtog aan

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs sy jaarlikse Waardeer jou Omgewing-veldtog aangebied, wat bewustheid wil skep oor verskillende omgewingskwessies wat ’n impak op die samelewing het.

Die week lange veldtog is op die NWU se kampus in Potchefstroom gehou.

Studente het die geleentheid gehad om deel te neem aan die plant van bome en die aanbied van ’n modeparade waarvoor herwinbare materiale gebruik is. “Die hoofdoel van hierdie veldtog was om studente aan te moedig om deel te neem en hulle koolstofvoetspoor te verklein,” sê Mario Matos, die Studente-kampusraadslid (SKR-lid) vir aktuele sake.

Mario sê dat die SKR ook van hierdie geleentheid gebruik gemaak het om die waardes van die universiteit te bevorder.

“Ek is baie tevrede met die uitkoms van die gebeurtenis. Ek en my span het die projek hierdie jaar anders benader deur te probeer om dit vir studente aanlokliker te maak en hulle aan te moedig om aktief deel te neem om ’n groen leefstyl te handhaaf. Ons sien ook daarna uit om in die nabye toekoms hierdie inisiatief na ons susterkampusse te neem,” sluit Mario af.