NWU beywer hulle om rassisme uit te roei

Belinda Bantham -- Thu, 04/05/2018 - 09:19

NWU beywer hulle om rassisme uit te roei

Die Ahmed Kathrada-stigting, wat deel is van die Anti-rassisme-netwerk van Suid-Afrika, het op 17 Maart 2018 ’n #RootOutRacism-dialoog by die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Potchefstroom gehou.

Die dialoog was deel van hulle anti-rassismeweek*-veldtog, waartydens hulle regdeur die land gereis het om openbare bewustheid oor rassisme te skep, en hoe dit individue in die breër samelewing raak.

Lede van die NWU se Verteenwoordigende Studenteraad van al drie kampusse is genooi om aan die besprekings deel te neem.

“Die doel van hierdie dialoog is om gesprek tussen studente aan te moedig en hulle so ver te kry om na mekaar te luister en moontlike oplossings vir hierdie probleem te kry,” sê Neeshan Bauton, HUB van die Ahmed Kathrada-stigting.

Hy het bygevoeg dat die stigting die NWU genader het met die doel om aan die studente die platform te verskaf om met mekaar te gesels, en ’n basis te skep vanwaar die universiteit hierdie kwessies kan hanteer voordat dit ’n krisis raak.

“Ons hoop dat studente die inligting en die nuwe insigte wat hulle verkry het met hulle families en gemeenskapslede sal deel. Die stigting is ook dankbaar vir die geleentheid om die #RootOutRacisim-dialoog by die NWU te fasiliteer,” het Neeshan afgesluit.

 * Anti-rassismeweek het van 14 tot 21 Maart plaasgevind.

 Neeshan Bauton, HUB van die Ahmed Kathrada-stigting, spreek die gehoor toe tydens die #RootOutRacism-dialoog.