NWU beklemtoon belangrikheid van bloeddrukbewustheid

Marelize Santana -- Fri, 05/05/2017 - 15:32

NWU beklemtoon belangrikheid van bloeddrukbewustheid

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het aangesluit by die wêreldwye veldtog om mense meer van hulle bloeddruk bewus te maak met ’n reeks toetse wat in Mei as deel van die grootste toetsingsveldtog nog ooit by kampusse en in die omliggende gemeenskappe uitgevoer gaan word.

Mei is internasionale bloeddrukmaand en 17 Mei is internasionale bloeddrukdag. Die Mei-metingsmaand is ’n wêreldwye toetsingsinisiatief wat die behoefte aan ’n toenemende bewustheid ten opsigte van bloeddruk beklemtoon. Die mikpunt is om die bloeddruk van 25 miljoen mense van regoor die wêreld te meet om uit te vind hoe groot die probleem werklik is. In Suid-Afrika is verskeie bloeddrukbewustheidsveldtogte reeds van stapel gestuur om almal oor die ouderdom van 18 jaar aan te moedig om hulle bloeddruk te laat toets.

Gratis toetsings sal plaaslik regdeur Mei, en op 17 Mei op al die NWU-kampusse, gedoen word.

Toetssentrums naby jou
Toetssentrums sluit in die NWU se Ingrypsentrum, NWU-gesondheidsentrum, NWU-welstandsentrum en die kliniek vir hoë bloeddruk van die Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART) in Potchefstroom.

Toetsings sal ook op 15, 16, 18 en 19 Mei by die Ikageng Mall in Potchefstroom gedoen word. Daarbenewens sal vrywilligers ook studentekoshuise en die kantore van personeel besoek.

In Mahikeng sal bloeddruktoetse op 31 Mei by die NWU-kampus se Groot Saal gedoen word. In Vanderbijlpark sal toetsings op 24 Mei by die lapa op die NWU se kampus plaasvind. Lede van die publiek kan ook hulle bloeddruk by alle Clicks-, Dischem- en Pick n Pay-apteke laat neem.

Bloeddruk – ’n wêreldwye probleem
Die NWU se prof Ruan Kruger en prof Angela Woodiwiss van die Universiteit van die Witwatersrand (WITS) bestuur die Suid-Afrikaanse veldtog. Ruan is tans die voorsitter van die nuwe ondersoekkomitee van die Internasionale Vereniging vir Hipertensie en hy dien op die direksie van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Hipertensie (SAHS). Hy werk as lid van die Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART) by die NWU en is by die buitemuurse navorsingseenheid van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se hipertensie en kardiovaskulêre siektes geaffilieer.

Hy sê dat hoë bloeddruk een van die oorsake van sterftes in Suid-Afrika is wat die meeste aangemeld word.  “Dit is ook op ’n wêreldwye skaal ’n enorme probleem. Tien miljoen mense sterf elke jaar wêreldwyd aan chroniese hoë bloeddruk wat lei tot beroertes, hartaanvalle of iets anders wat deur die toestand veroorsaak word. Amper die helfte van daardie mense het nooit eers geweet dat hulle hoë bloeddruk het nie. Dit kon voorkom geword het as hulle hul bloeddruk gereeld laat toets het sodat hulle gesonder keuses kon maak om ’n langer lewe te bevorder.”

Hy sê dat gratis toetsings ’n uitstekende geleentheid vir Suid-Afrikaners is om hulle bloeddruk te laat toets en moedig almal aan om van hierdie lewensveranderende gemeenskapsdiens gebruik te maak.

Vir meer inligting skakel vir Ruan by 018 299 2904, Lebo Gafane-Matemane by 018 299 2435 of Bonita Maboeta by 018 299 4280.


Toets jou bloeddruk! Prof Ruan Kruger en sy toegewyde span spoor alle personeel en student aan om hulle te laat toets.
Van links is Elfas Ramotshaba, Prof Ruan Kruger, Cleo Mokhaneli, Lorato Mokae, Blessing Ahiante, Nare Sekoba, Edith Phalane en Gontse Mokwatsi.