NWU-alumnus ontvang ABSA goue medalje as beste MBA-presteerder

Belinda Bantham -- Mon, 05/29/2017 - 15:15

NWU-alumnus ontvang ABSA goue medalje as beste MBA-presteerder

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur se toppresteerder, Pieter Smit, het behoorlik uitgeblink tydens die onlangse MBA-toekenningsgeleentheid waar hy die ABSA-goue medalje vir beste MBA-presteerder ontvang het.

ABSA borg vir die eerste keer hierdie toekenning wat ʼn goue medalje van nege karaat (waarop die beste student se naam gegraveer is), ʼn sertifikaat asook ʼn wisseltrofee en kontantbedrag insluit.

“Dit is vir die ons ʼn voorreg om ABSA betrokke te hê en ons sien uit na toekomstige samewerking,” sê prof Tommy du Plessis, direkteur van die skool.

Pieter, ʼn alumnus van die NWU, werk vir meer as agt jaar by Monsanto SA werksaam en is die afgelope jaar ‘n bemarkingsbestuurder by dié maatskappy. Hy is verantwoordelik vir die promosie- en kliënte-strategie, asook die basiese bemarking van Monsanto-produkte in Suid-Afrika.

Gedurende sy toespraak tydens die MBA-toekenningsfunksie het hy gesê die meesters van ons toekoms is niemand anders as onsself nie, en dit is elke persoon se verantwoordelikheid om ʼn rol in die verbetering van ons samelewing en land te speel. “Graduandi, die beste van die beste, die meesters van besigheid en leierskap: gebruik u kennis en invloed om ʼn stem aan die stemlose te gee, om die samelewing te reinig van oordeel en polarisasie. Lewe vir die waarheid en volgens die morele waardes wat u in ons samelewing wil sien.”

Peter Kungeke het vanjaar die silwermedalje van die Professional Provident Society (PPS) vir beste skripsie gelewer ontvang. Peter is tans in diens van Toyota Tsusho Africa as ʼn assistent-algemene bestuurder vir naverkope-ondersteuning in Afrika. PPS borg die silwermedalje al vir jare.

Altesaam 69 graduandi het hul MBA-grade op 23 Mei deur die NWU Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur verwerf.


Van links: Prof Tommy du Plessis, Direkteur: NWU Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur; prof Susan Visser, Viserektor: Navorsing en Beplanning; me Vicky Ramela, Streek Uitvoerende Beampte: ABSA; Pieter Smit, beste algehele presteerder in die MBA-program; prof Jan van Romburgh, Dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en mnr Pierre Nel, Streeksbestuurder: ABSA Private Banking, Noordwes-streek.