NWU-akademikus stap met Wetenskap Oscar weg

Marelize Santana -- Tue, 07/02/2019 - 07:56

NWU-akademikus stap met Wetenskap Oscar weg

Prof Elvis Fosso-Kankeu van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Chemiese en Mineraalingenieurswese het by die onlangse NSTF-South32-toekennings met die toekenning vir Ingenieurswese-navorsingskapasiteitsontwikkeling- weggestap.

Die nasionale NSTF-South32-toekennings is die grootste innoveringstoekennings vir wetenskap, ingenieurwese en tegnologie (SET) in Suid-Afrika. Dit staan as die Wetenskap Oscars bekend en was die eerste wetenskaptoekennings in die land.

Prof Fosso-Kankeu het die toekenning ontvang vir sy navorsingsbydrae tot die verbetering van die gehalte van die land se water. Sy navorsing het gefokus op die voorspelling van die verspreiding van anorganiese en organiese besoedelstowwe vanaf industriële gebiede na waterbronne, die monitering van die gehalte van oppervlakwater, en die ontwikkeling van volhoubare behandelingsmetodes vir die remediëring van waterbesoedeling.   

Hy het ’n spesifieke belangstelling in werk in die gemeenskappe wat deur uiterste waterskaarste en -besoedeling geraak word, asook in innoverende tegnologieë om die elektrisiteitsbedryf te help om hulle voetspoor te verklein deur te verseker dat daar geen vloeibare afvalstowwe geproduseer word nie. Hy het dus gemeenskapsgebaseerde projekte en innoverende projekte bymekaargebring en ’n wye verskeidenheid maniere ondersoek om sy bevindings uit te dra.

“Dit is die eerste keer dat ek ’n NSTF-toekenning wen,” sê prof Fosso-Kankeu. “Die kategorie waarvoor ek benoem is, was uiters mededingend, en ek is waarlik geëerd dat ek hierdie gesogte toekenning gewen het.”

Prof Fosso-Kankeu was verlede jaar ’n finalis in twee kategorieë, maar het nie gewen nie. Hy was hierdie jaar ’n finalis in drie kategorieë, en het uiteindelik met ’n toekenning weggestap.

“Ek wil die Almagtige, my gesin, die NWU-bestuur, asook my studente en medewerkers bedank wat saam met my aan die verskillende navorsingsprojekte gewerk het,” het hy afgesluit.

Die NWU wens prof Fosso-Kankeu geluk met sy baanbrekersnavorsing en dat hy hierdie gesogte toekenning gewen het.

Die NWU se prof Elvis Fosso-Kankeu ontvang die toekenning vir Ingenieurswese-navorsingskapasiteitsontwikkeling by die onlangse NSTF-South32-toekennings.