NWU-afrigter as provinsiale swemafrigter aangestel

Belinda Bantham -- Tue, 06/05/2018 - 09:52

NWU-afrigter as provinsiale swemafrigter aangestel

Swem is grotendeels ’n waarnemersport, en ’n swemafrigter moet ’n baie goeie waarnemer wees. Jy moet ook ’n wonderlike motiveerder wees, alles oor die jongste swemtegnieke en ‑ontwikkeling weet, en – die belangrikste – passievol oor swem wees.

Dit is maar ’n paar van die eienskappe van Marike van Oort, hoofswemafrigter van die Noordwes-Universiteit (NWU), en nou ook amptelike afrigter van Noordwes se provinsiale span.

Sy het haar BSc sowel as BScHons in sportwetenskap aan die NWU voltooi en is in 2008 as hoofswemafrigter aangestel.

Marike rig ook ontluikende swemsterre af, soos die NWU se swemkampioen, Nadia Blaauw, die SA paralimpiese swemmer Adri Visser, en Cornell Laubscher, wat uitstekend presteer het in die Deaflympics Spele in Turkye in Julie 2017.

 “Marike is ’n baie stil, nederige persoon,” sê Helene Botha, bestuurder van vrouesport aan die NWU. “Sy is ’n ongelooflike afrigter en het ’n wonderlike werksetiek. Sy het die fondasie gelê vir die swemspan om so goed te wees as wat hulle vandag is, en dit is een van die redes waarom sy as provinsiale afrigter aangewys is.”

Helene beskryf Marike as ’n afrigter wat werklik vir die swemmers omgee, en altyd groot belangstelling in hulle toon. Sy is altyd beskikbaar wanneer dit nodig is.

 “Ons is baie opgewonde om haar onthalwe en wens haar alles van die beste toe. Sy het al die eienskappe om sukses te behaal,” sê Helene.

Marike Van Oort