Nuwe voorsitter van die Raad van die Noordwes-Universiteit (NWU) aangewys

Belinda Bantham -- Thu, 03/16/2017 - 15:49

Nuwe voorsitter van die Raad van die NWU aangewys

Tydens die vergadering van die Raad van die Noordwes-Universiteit (NWU) op 16 Maart 2017 is dr Mzubanzi Bismark Tyobeka as die nuwe voorsitter aangewys wat vir die volgende drie jaar dié Raad sal stuur. Dit volg ná die verstryking van die vorige voorsitter, adv Johan Kruger, se ampstermyn aan die einde van Maart 2017. Hy het homself nie weer vir herverkiesing beskikbaar gestel nie.

Dr Tyobeka, wat as die vyfde voorsitter van die NWU-Raad verkies is, is sedert November 2014 lid van die NWU-Raad. Hy dien tans as voorsitter van die Raad se Transformasie Oorsigkomitee en is onlangs tot die Studente Oorsigkomitee van die NWU-Raad verkies.

Hy is ʼn trotse NWU-alumnus en word erken as een van die voorste kernkragkundiges in die wêreld. Hy beklee sedert 2013 die pos as hoof uitvoerende beampte van die Nasionale Kernreguleerder van Suid-Afrika (NNRSA) en speel ʼn belangrike rol in verskeie inisiatiewe van die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA).

Hy dien tans onder meer op die IAEA se Internasionale Advieskomitee vir Kernveiligheid (INSAG); as adjunkvoorsitter van die Internasionale Kernregulatoriese Samewerkingsforum (RCF); en beklee ook die posisie as adjunkvoorsitter vir die Forum vir Kernregulatoriese Liggame in Afrika (FNRBA). Ten spyte van sy internasionale prominensie,  het hy egter nie sy wortels vergeet nie en hou hy noue kontak met baie oudstudente wat nou in die kernkragindustrie in Suid-Afrika werk.

Hy het die grade BSc (Ed) (1999) en MSc (2001) aan die voormalige Universiteit van Noordwes verwerf en in 2004 nog ʼn meestersgraad in Kerningenieurswese aan die Penn State University in die VSA.

In 2005 het hy ʼn meestersgraad in projekbestuur aan die Colorado Technical University in die VSA verwerf en in 2007 sy PhD in Kerningenieurswese ook van die Penn State University ontvang.

Dr Tyobeka is in 2013 met ʼn NWU Alumnitoekenning vir Uitnemendheid vir sy persoonlike en loopbaanprestasies vereer, veral vir sy reusebydrae tot die kernwetenskap regoor die wêreld.

Voor hy as hoof uitvoerende beampte van die NNRSA aangewys is, het hy sedert 2008 by die Internasionale Atoomenergieagentskap in Oostenryk as kerningenieur gewerk. Vanaf 2002 tot 2007 was hy verbonde aan die Penn State University as senior reaktorfisikus, en vanaf 2000 tot 2002 het hy dieselfde pos by Eskom beklee.

Dr Tyobeka was die outeur en mede-outeur van verskeie akademiese artikels en het regoor die wêreld gereis om referate by internasionale akademiese konferensies te lewer.

In sy aanvaardingstoespraak het dr Tyobeka die Raad bedank vir die geleentheid om die NWU en sy gemeenskappe te dien en vir die vertroue wat in hom gestel is. Hy het homself daartoe verbind om voort te bou op die uitstekende werk, kohesie en momentum van sy voorgangers. “Ek is onder geen illusie dat hierdie ‘n maklike taak sal wees nie, maar met alle lede se samewerking en gedeelde toewyding om die NWU te sien presteer, is ek vol vertroue dat ons dit sal laat gebeur. Ek sien uit daarna om die pad saam met die NWU te loop, en saam sal ons hierdie instelling se vlag hoog laat wapper,” sê hy.

Adv Johan Kruger het sedert November 2014 as voorsitter van die NWU-Raad gedien, en het die NWU deur moeilike tye gelei.

“Die NWU se nuwe strategie en herstruktureringsproses was ʼn ingewikkelde en sensitiewe saak, maar my termyn as voorsitter was sekerlik een van die mees verrykende ervarings van my lewe. Die gehalte van die mense saam met wie ek gewerk en gedien het, gee my hoop vir die toekoms van ons land en ons instelling. Dit geld vir alle betrokkenes: Raadslede, bestuur (institusioneel en kampusse), en ook die akademiese en ondersteuningspersoneel. Daarbenewens het ek ook die voorreg gehad om op ʼn formele en informele basis met 'n wye verskeidenheid van personeellede en studente te handel. Ek sal dit altyd koester. NWU, ek salueer julle, julle het my taak maklik gemaak”, sê adv Kruger.

Verskeie van adv Kruger se kollegas op die Raad het hom geloof vir sy bydrae:

“Die Raad en die breër NWU-gemeenskap is baie dank aan u verskuldig vir u rentmeesterskap. Ek kan my met die beste wil ter wêreld nie indink wáár ons vandag sou wees sonder u onwankelbare, ferm en regverdige leierskap van ons Raad nie.”

“U het die NWU-Raad met onderskeiding gedien. U is so buigsaam, en tog so ferm. U is ʼn goeie leier, luisteraar – eerlik, gebalanseerd, sober en uiters regverdig. U het die voorsitter geword op ʼn kritieke tyd van transformasie by ons universiteit. Ek gaan u wysheid en uitstaande goeie leierskap mis.”

“Voorsitter, u het gekom en hierdie skip deur uiters stormagtige tye gestuur. U is allerlei name toegesnou, maar omdat God altyd met u was, het u uiteindelik geseëvier. Ek sal al u leierseienskappe beslis mis. Alles van die beste met u toekomsplanne, mag God u ryklik seën en altyd bewaar.”

Prof Dan Kgwadi, visekanselier, sê onder die leierskap en leiding van dr Tyobeka is hy seker dat die NWU-Raad sal voortgaan om die universiteit op so ʼn wyse te bestuur dat dit selfs hoër hoogtes sal bereik. Ten spyte van uitdagings, sal die NWU een van die toonaangewende universiteite in Suid-Afrika bly.”

Prof Kgwadi het namens bestuur, personeel en studente sy waardering teenoor adv Kruger uitgespreek vir sy besonderse leiding tydens sy termyn as voorsitter van die NWU-Raad.

Uitgereik deur Louis Jacobs namens die Raad van die Noordwes-Universiteit.

Navrae :                      Dr Bismark Tyobeka  : tans in buiteland – kontak Louis Jacobs

Adv Johan Kruger     : 083 303 5411 

Prof Dan Kgwadi      :  082 929 6081

Mr Louis Jacobs       : 082 901 6435

Datum:                         16 Maart 2017

Dr Mzubanzi Bismark Tyobeka, nuwe voorsitter van die NWU-Raad.