Noordwes-Universiteit onder die voorste 5% van universiteite ter wêreld

Marelize Santana -- Fri, 08/09/2019 - 08:32

Noordwes-Universiteit onder die voorste 5% van universiteite ter wêreld

Die graderings van die Sentrum vir Wêrelduniversiteitsgraderings (Center for World University Rankings, CWUR) het aangedui dat die Noordwes-Universiteit (NWU) beslis besig is om teen die leer van wêreld-gegradeerde universiteite uit te klim.

Die NWU het sy plek op die ranglys met byna 100 plekke verbeter en vanaf posisie 964 na 869 gevorder. Dit plaas hierdie universiteit onder die top-4,8% van die meer as 18 000 universiteite wat wêreldwyd geëvalueer word. Selfs al bly die NWU op posisie nommer 7 op die CWUR se ranglys van Suid-Afrikaanse universiteite, is dit die plaaslike universiteit wat sy posisie verreweg die meeste verbeter het.

Die Sentrum vir Wêrelduniversiteitsgraderings (CWUR) publiseer die enigste wêreldwye universiteitsranglys wat die gehalte van onderwys en opleiding van studente sowel as die prestige van die fakulteitslede en die gehalte van hulle navorsing meet. In teenstelling met ander organisasies baseer die CWUR nie sy gradering op data wat deur universiteite ingedien of wat deur opnames ingesamel word nie.  

Die CWUR gebruik sewe objektiewe en sterk aanwysers om die wêreld se top-1 000 universiteite op ’n ranglys te plaas:

1) Gehalte van onderrig, wat gemeet word aan die getal alumni van die universiteit wat groot internasionale toekennings, pryse en medaljes gewen het relatief tot die grootte van die universiteit (25%)
2) Alumni-aanstellings, gemeet aan die getal alumni van die universiteit wat HUB-posisies by die wêreld se topmaatskappye beklee het relatief tot die grootte van die universiteit (25%)
3) Gehalte van die fakulteit, gemeet aan die getal akademici wat belangrike internasionale toekennings, pryse en medaljes gewen het (10%)
4) Navorsingsuitsette, gemeet aan die totale getal navorsingsreferate (10%)
5) Hoëgehalte publikasies, gemeet aan die getal navorsingsreferate wat in topgegradeerde vaktydskrifte verskyn (10%)
6) Invloed, gemeet aan die getal navorsingsreferate wat in uiters invloedryke vaktydskrifte verskyn (10%)
7) Sitate, gemeet aan die getal navorsingsreferate wat die meeste aangehaal word (10%)

In 2018 het Quacquarelli Symonds (QS) aan die NWU ’n algehele vierstergradering toegeken (’n verbetering op die drie sterre wat in 2012 toegeken is), en vyf uit vyf sterre in die kategorieë vir onderrig, indiensneembaarheid, innovasie en fasiliteite. Ons bied steeds kursusse aan wat onder die hoogs aangeskrewe ter wêreld is.

“Met al hierdie feite in gedagte, is dit heeltemal duidelik dat ons geweldige vordering toon om ons droom te verwesenlik om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees wat bekend is vir betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ’n sorgsaamheidsetiek. Nie net blink ons uit in innoverende leer en onderrig en baanbrekernavorsing nie, maar baat ons ook ons samelewing deur kennis,” het die visekanselier van die universiteit, prof Dan Kgwadi opgemerk.