NWU-akademikus pak werkloosheid onder die jeug aan

Namate statistieke oor werkloosheid onder die jeug in Suid-Afrika steeds styg, is ’n akademikus van die Noordwes-Universiteit (NWU) op die voorpunt om oplossings vir hierdie krisis te soek.Dr Celestin Mayombe van die Skool vir Professionele Studies in Onderwys het onlangs ’n navorsingsverslag getiteld: “Needs assessment for vocational skills training for unemployed youth in eThekwini Municipality, South Africa” gepubliseer.

Die studie het bevind dat die belangrikste aspek van die evalueringsproses ten opsigte van opleidingsbehoeftes die konsultasie met en betrokkenheid van belanghebbers was wat die eThekwini Munisipale Akademie onderneem het.

Hierdie belanghebbers is voornemende werkgewers soos maatskappye en staatsdepartemente wat oor hulle werwingsbehoeftes en die beskikbaarheid van werk geraadpleeg is. Hulle terugvoer word dan by die Akademie se keuring, en die ontwerp en bestuur van hulle opleidingskursusse ingesluit.

“Die huidige probleem is dat daar ’n vermiste skakel tussen opleidingsprogramme vir beroepsvaardighede en uitkomste ten opsigte van werkloosheid onder die jeug is,” verduidelik dr Mayombe.

“Dit wil voorkom of die kennisgaping nie soseer oor opleidingsprogramme vir beroepsvaardighede gaan nie, maar oor bydraende faktore ten opsigte van die indiensneming van jongmense.”

Beroepsvaardighede-opleiding noodsaaklik vir vaardigheidsontwikkeling

KwaZulu-Natal, die provinsie met die derde grootste bevolking in Suid-Afrika, gebruik opleidingsprogramme in beroepsvaardighede as instrumente om werkloosheid onder die jeug in dié provinsie te verminder. Die provinsie se mensehulpbron-ontwikkelingstrategie (Human Resource Development Strategy) en die ontwikkeling van ’n implementeringsraamwerk (Development of an Implementation Framework) vir 2016 tot 2030 beklemtoon dat opleiding in beroepsvaardighede ’n belangrike komponent van die vaardigheidsontwikkelingstruktuur is om werklose jongmense te help.

Hoewel die studie by die eThekwini Munisipale Akademie uitgevoer is, word die bevindings as betekenisvol vir Suid-Afrika beskou. Die rede is dat dit insig verskaf in die rol van die evaluering van opleidingsbehoeftes in die bevordering van die doeltreffendheid van opleiding in beroepsvaardighede vir werklose en benadeelde jongmense.

Die bevindings kan organisasies en instellings help om na hulle huidige evaluering van opleidingsbehoeftes te kyk en die nodige aanpassings te maak om hulle opleidingsprogramme te verbeter en te bestuur.

Opleiding wat aan die behoeftes van en beskikbaarheid in die arbeidsmark voldoen, sal uiteindelik ’n blinker toekoms vir die jeug verseker.

Dr Mayombe se volledige navorsingsverslag kan hier gelees word.

Dr Celestin Mayombe.

Submitted on Thu, 06/25/2020 - 07:26