Navorsing oor die splitsing van water ontvang ’n allemintige R4,2 miljoen

Belinda Bantham -- Fri, 02/15/2019 - 08:37

Navorsing oor die splitsing van water ontvang ’n allemintige R4,2 miljoen

’n Navorser in elektrochemie vir energie en die omgewing het so pas goedkeuring vir ’n vierjaarprojek ter waarde van R4,2 miljoen van die Nasionale Navorsingstigting ontvang.


Prof Cobus Kriek is die leier van die groep vir elektrochemie vir energie en die omgewing in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe se navorsingsfokusarea vir chemiese hulpbronveredeling. 


Hierdie projek, in samewerking met die Noorweegse Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (NTNU) in Trondheim, sal vanaf 2019 tot aan die einde van 2022 loop. 
Cobus sê dat die span ysterhoudende nikkeloksied as elektrokatalisator wil ondersoek vir die elektrolitiese splitsing van water om waterstof as ʼn skoon energiestoor te produseer. 

Hierdie werk val onder die program getiteld die Suid-Afrika-Noorweë-samewerking oor oseaannavorsing, insluitende blou ekonomie, klimaatsverandering, die omgewing en volhoubare energie (South Africa-Norway co-operation on OCEAN research, including blue economy, climate change, the environment and sustainable energy, (SANOCEAN).


“Klimaatsverandering en die effek daarvan word toenemend waargeneem, en dit het ’n dringendheid tot gevolg gehad om tegnologie vir skoon en volhoubare energie te ontwikkel. ’n Gebied van groot belangstelling is die gebruik van hernubare energie, byvoorbeeld elektrisiteit wat van die son en wind geproduseer kan word om ’n water-elektroliseerder aan te dryf wat water in sy komponente, waterstof en suurstof, kan afbreek.”  


Hy sê dat waterstof een van die hoogste energiedigtheidswaardes per massa het, wat dit ’n ideale energiestoor maak. As dit moontlik is om met die gebruik van energie van die son of wind water effektief en ekonomies te splits om waterstof te produseer, kan son- of windenergie doeltreffend versamel word en in die vorm van waterstofgas gestoor word. 


“Die vrystelling van die gestoorde energie in waterstof deur óf verbranding óf ’n brandstofsel, waar waterstof en suurstof uit die lug kombineer om elektrisiteit te produseer, stel weer water in die omgewing vry, wat ’n skoon en hernubare energiesiklus verseker. 
“Die struikelblok in hierdie proses wat oorkom moet word, is om die energie te verminder wat vereis word om water elektrolities te splits, wat tot gevolg sal hê dat meer son- of windenergie in die vorm van waterstofgas gestoor kan word.”


Die projek wat aan Cobus se navorsingsgroep, in samewerking met die NTNU in Noorweë, toegeken is, wil lig werp op die verhoogde aktiwiteit wat nikkeloksied sal ontvang (om as katalisator in die splitsing van water op te tree) deur dit met spoorhoeveelhede yster te laai. 
Hy sê dat die projek ook ’n langtermyn-samewerkingspoging tussen die NWU en die NTNU sal vestig, met studente van die NWU wat ’n paar maande elke jaar in laboratoriums van die NTNU deurbring. 
Hy het ’n uitnodiging van die NTNU aanvaar om in Junie ’n lesing by die tweede internasionale konferensie oor elektrolise in Loen in Noorweë te lewer.  Internasionale navorsers sal by hierdie konferensie bymekaarkom om hulle werk oor die splitsing van water te bespreek. 


Prof Cobus Kriek.