Navorsing ondersoek voorkeure van wildsvleiseters

Marelize Santana -- Fri, 08/31/2018 - 09:41

Navorsing ondersoek voorkeure van wildsvleiseters

Vroeër hierdie jaar het Statistiek SA aangedui dat meer as ses miljoen Suid-Afrikaners tans werkloos is. Met die land se huidige ekonomiese klimaat wat tot krimpende geleenthede vir formele indiensneming lei, wend al hoe meer Suid-Afrikaners hulle tot entrepreneurskap.

Die direkteur van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewings en die Samelewing (TREES), prof Melville Saayman, TREES-navorsingsassistent me Bianca van Rensburg en prof Elmarie Slabbert, adjunkdirekteur van die Skool vir Toerisme, het navorsing oor die wildsvleisbedryf en die groeipotensiaal daarvan gedoen.

Die navorsing het die gedrag en voorkeure van wildsvleisliefhebbers ontleed en die winsgedrag en keuses geïdentifiseer van mense wat nie wildsvleis eet nie.

Volgens prof Saayman het die studie bevind dat ongeveer R500 miljoen se wildsvleis jaarliks na Europa uitgevoer word. Die navorsing het daarop gedui dat wildsvleisuitvoere baie laag is, en dat daar groeipotensiaal is vir vars wildsvleis – plaaslik sowel as internasionaal.

“Daar is ongeveer 9 000 wildplase in privaat besit in die land, en Suid-Afrika het meer as 20 miljoen stuks wild, dus is daar geweldige potensiaal vir entrepreneurs om hierdie mark te betree,” sê hy.  

Nuwe regulasie om entrepreneurskapsgeleenthede te verhoog

Prof Saayman sê dat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye beplan om ’n nuwe regulasie aan te kondig wat ’n groot impak op nuwe en bestaande besighede sal hê.

Die nuwe regulasie beoog om wild kwyt te skeld van ’n gedeelte van die bepalings van artikel 11(1)(i) van die Wet op die Veiligheid van Vleis, wat bepaal dat geen dooie dier of dier wat ly aan ’n toestand wat die vleis onveilig kan maak vir menslike en dierlike verbruik by ’n abattoir aangebied mag word om geslag te word nie.

Ingevolge artikel 11(1) beoog die nuwe regulasie om toe te laat dat wild wat buite ’n slagpale geskiet is, by die abattoir vir verwerking aangebied mag word. Die nuwe regulasie sal ook verseker dat wildboere die voedselveiligheidsregulasies nakom, aangesien die bestaande regulasie dit nie verseker nie.

Op ’n vraag oor die potensiële entrepreneurskapsgeleenthede, het prof Saayman geantwoord dat daar talle sakeprojekte is wat uit hierdie nuwe regulasie sal voortvloei. Tot nou toe is wildboere verbied om hulle eie abattoirs oop te maak, maar die nuwe wet sal hulle toelaat om hulle eie landelike wild- en mobiele abattoirs te open.

Die oopmaak van nog abattoirs sal wildsplaaseienaars en die publiek ook die geleentheid gee om tot die wildsvleis-uitvoerbedryf by te dra.

“Die nuwe regulasies sal die mark ontsluit vir kunstenaars, wat meubels of ornamente van die neweprodukte soos horings, bene en vel kan vervaardig,” sê prof Saayman.

Hy voeg by dat bemarkers ook by die bemarking en verkoop van wildsvleis kan baat. “Daar is ongeveer 85 000 restaurante en meer as 30 000 gastehuise en bed-en-ontbyt-instellings in Suid-Afrika, wat verder bewys hoe lonend die toerismebedryf kan wees. Met verloop van tyd het dit duidelik geword dat die toerismebedryf ’n positiewe impak op entrepreneurskap het.”