Navorsing moet impak in gemeenskappe hê

Marelize Santana -- Fri, 11/23/2018 - 13:35

Navorsing moet impak in gemeenskappe hê

Dit is belangrik dat die Noordwes-Universiteit (NWU) op kritieke gemeenskapsuitdagings in navorsing fokus – dit maak navorsing meer relevant en bruikbaar vir die gemeenskap.

Die klem verskuif al hoe meer van navorsing vir akademiese belang na navorsing wat gemeenskappe kan gebruik. Dit gaan nie oor hoeveel navorsingsuitsette – soos artikels en konferensievoordragte – wat die universiteit lewer nie, maar wat gemeenskappe met hierdie resultate kan doen.

Prof Hendri Coetzee, bestuurder vir betrokke navorsing in die kantoor vir Volhoubaarheid en Gemeenskapsimpak, sê die ideaal is dat gemeenskappe, van individue tot die industrie, navorsingsresultate kan gebruik om innoverende produkte en dienste te skep wat hul behoeftes sal aanspreek.

Uitreik lei tot navorsing
Hy sê volhoubare gemeenskapsbetrokkenavorsing is ʼn proses van samewerking tussen die navorser en sy of haar gemeenskapsvennoot. Hulle skep en versprei kennis en innovasie saam met die doel om tot die betrokke akademiese dissipline en die welstand van die gemeenskap by te dra.

Die waardeketting vir volhoubare gemeenskapsverbintenis begin by studente wat uitreik deur middel van gemeenskapsprojekte, bewus raak van probleme en behoeftes, en dit ondersoek of na akademici oordra. Dit lei tot navorsing wat uiteindelik lei tot innovasie en probleemoplossings, wat die waardeketting voltooi.

"Hierdie proses vorm die basis van gemeenskapbetrokke-vakgeleerdheid, wat een van die drie kritiese elemente is – saam met die sorgsaamheidsetiek en maatskaplike responsiwiteit – van die NWU se oorkoepelende strategie,” sê prof Coetzee.

“Universiteite staan nie apart van hul gemeenskappe nie. Ons is ʼn integrale deel van hierdie gemeenskappe, en as na gemeenskapsbetrokke-vakgeleerdheid vanuit ʼn impak- en volhoubaarheidsperspektief kyk, gee dit ons die bestaansreg om binne gemeenskappe te werk. Ons bring kennis na die ontwikkelingstafel om probleme en uitdagings te verstaan, asook om oplossings daarvoor te vind.”

Prof Coetzee sê dat in die lig van sosiale verantwoordbaarheid moet navorsing meer relevant word. Ideaal gesproke moet dit op die kritiese gemeenskapsuitdagings van die dag fokus.

Kundiges moet regte probleme takel
Van dié kritieke uitdagings is vervat in die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte en -planne van die Verenigde Nasies, die Suid-Afrikaanse regering, en die provinsiale regerings van Noordwes en Gauteng. Dit is ook deel van die behoeftebepalings wat die NWU in die gebiede rondom sy kampusse gedoen het.

“As universiteite hierdie uitdagings in navorsing aanspreek, sal dit waarskynlik groter en meer betekenisvolle impak as konvensionele navorsing hê,” sê hy.

“Die NWU het genoeg kundigheidsgebiede om probleme in die gemeenskap aan te spreek om sodoende sinvolle bydraes te kan lewer. Ons het alreeds verskeie suksesse gehad wat betref dienslewering, gesondheid en opvoeding, sowel as werkgeïntegreerde leer en diensleer, waaroor daar ook al baie navorsing deur die NWU gedoen is.”

Werkgeïntegreerde leer en diensleer is waar studente dienste in ʼn gemeenskap lewer en ter selfder tyd opleiding ontvang.

“Al hierdie voorbeelde het nie net ʼn behoefte aangespreek nie, maar was ook tot voordeel van die universiteit, want dit het gelei tot navorsingsuitsette en die opleiding van studente.”

Prof Coetzee sê dat die NWU, saam met die Universiteit van Stellenbosch (US), eerste is om na gemeenskapbetrokkenheid vanuit ʼn impakperspektief te kyk (alhoewel US dit sosiale impak noem).

“Ons institusionele benadering tot gemeenskapbetrokkenheid is egter relatief uniek in die Suid-Afrikaanse konteks, omdat ons gemeenskapsimpak ook met volhoubaarheid kombineer. Hierdie strategie is op internasionale beste praktyke gebaseer.”

Prof Hendri Coetzee.