Navorser word vereer met Vroue in Wetenskap-toekenning

Belinda Bantham -- Wed, 08/30/2017 - 15:23

Navorser word vereer met Vroue in Wetenskap-toekenning

Dit was ’n jaar van akademiese hoogtepunte vir een van die Noordwes-Universiteit (NWU) se produktiefste navorsers, met twee hoëprofieltoekennings in slegs twee maande. Prof Alta Schutte van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe op die kampus in Potchefstroom is in Vrouemaand as ’n uitsonderlike vrouenavorser vir haar werk in natuur- en ingenieurswetenskappe vereer.

Dit volg kort op die hakke van die gesogte NSTF-South 32-toekenning, ook bekend as die “Wetenskap Oscars”, wat sy in Junie ontvang het. Alta, vir wie toekennings nie onbekend is nie, is ook vereer met ’n Vroue in Wetenskap-toekenning vir uitsonderlike jong vroue in wetenskap en ’n uitnemendheidstoekenning van die Fisiologie-vereniging van Suider-Afrika.  Sy is vir die Volgende Einstein-forum gekies, wat wetenskap, die samelewing en beleid in Afrika en die res van die wêreld verbind. 

Haar jongste prestasie is ’n jaarlikse toekenning wat die prestasies van vroue in wetenskap vier, en deur die regering se Departement van Wetenskap en Tegnologie toegeken word. Minister Naledi Pandor sê dat die doel van die toekennings is om buitengewone prestasies van vroue te belig met die hoop dat dit jong vroue sal inspireer om in hulle voetspore te volg.

Die Vroue in Wetenskap-toekenning plaas vir Alta in dieselfde liga as van die land se mees geëerde en inspirerende vrouewetenskaplikes.

’n Mens is net ’n paar oomblikke in haar geselskap voordat jy besef dat sy ’n buitengewone vrou is wat absoluut passievol is oor haar werk in die fakulteit, veral by die Hipertensie in Afrika-navorsingspan (Hart), wat onlangs een van die NWU se vier sentrums van uitnemendheid geword het.

Haar kundigheid het daartoe gelei dat sy as die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-Inisiatief (SARChI) vir die Vroeë Opsporing en Voorkoming van Kardiovaskulêre Siekte in Suid-Afrika aangestel is. Alta is ook die direkteur van die Mediese Navorsingsraad se buitemuurse eenheid vir hipertensie en kardiovaskulêre siekte en ondervoorsitter van die Internasionale Vereniging van Hipertensie. Sy het ’n B2-gradering van die Nasionale Navorsingstigting ontvang, wat haar as ’n internasionaal erkende navorser erken.

“Enige vorm van erkenning is altyd wonderlik en dit is fantasties dat daar platforms soos hierdie is. Toekennings gee gewoonlik aan individue die krediet, maar ek sou nie kon doen wat ek doen as dit nie vir die wonderlike groep kollegas en studente en die spanwerk by die NWU was nie,” sê sy baie nederig.

Hoe word ’n mens ’n erkende wetenskaplike? Dit is ’n maklike vraag vir Alta. “Die antwoord vir sukses is passie vir dit wat jy doen. Wanneer jy passievol is, kan jy by die uitdagings aanpas om dit te bereik wat jy vir jouself gestel het om te doen.”

Haar raad aan jong en opkomende wetenskaplikes:  soek vir julle ’n goeie mentor(s), ontwikkel die vermoë om soms “nee” te sê wanneer die werklas onbeheerbaar raak, en ondersteuning in die werksomgewing is nodig om die toppunt van sukses te bereik.

Alta is meer as net ’n kundige navorser. Sy is ook ’n toegewyde ma van twee jong kinders en sê dat sy haar professionele sukses aan die ondersteuning en liefde van haar gesin te danke het, en veral aan haar man, PJ.

 

Prof Alta Schutte van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe was die algehele wenner van die Uitsonderlike Vroue in Wetenskap-toekenning. Sy was die suksesvolle mentor van sewe postdoktorale genote, en sy het al 13 PhD-, 24 meestersgraad- en 25 honneursstudente begelei. Sy is tans ook die studieleier van nege PhD- en vier meestersgraadstudente.