Navorser sien geleenthede raak, nie struikelblokke nie

Marelize Santana -- Thu, 08/29/2019 - 13:24

Navorser sien geleenthede raak, nie struikelblokke nie

Daar is ’n algemene opvatting onder die meeste hoopvolle voorgraadse studente dat, indien die tradisionele manier om vir tersiêre onderrig te betaal nie vir hulle beskikbaar is nie, hulle sonder die moontlikheid gelaat word om ’n opwindende loopbaan na te jaag.

’n Inspirerende jong akademikus van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Gesondheidswetenskappe het hierdie mite die nek ingeslaan deur die deure van moontlikhede sommer wyd oop te skop.

Dr Lebo Gafane-Matemane, ’n senior lektor by die navorsingseenheid Hipertensie in Afrika, sê haar grootste doelwit is om deur haar navorsing oor kardiovaskulêre siektes ’n positiewe verandering aan die gesondheid van Suid-Afrikaners te bewerkstellig.

Die Nasionale Navorsingstigting (NNS) het haar in 2011 befonds vir haar honneursgraad in fisiologie, in 2013 vir haar MSc in fisiologie, en in 2014 vir ’n PhD in fisiologie. Sy is daarna as voltydse senior lektor by die NWU aangestel.

“Die NNS het dit vir my moontlik gemaak om te studeer totdat ek ’n werk kon kry en my eie geld verdien. Die befondsing het my vasberade gemaak om uitnemendheid na te streef en om my loopbaan in navorsing na te jaag,” sê sy.

“Ek moes hard werk om vordering te maak en uitsette te produseer om befondsing vir die volgende jaar te verseker, en dit het die basis geword waarop my hele loopbaan gebou is. Ek het my honneurs met onderskeiding behaal en my MSc is binne ’n jaar voltooi, ook met onderskeiding. My PhD het ek in drie jaar klaargemaak en uitstekende eksaminatorsverslae gekry.”

Dr Gafane-Matemane se PhD-werk het in 2016 by die Beroerte- en Hipertensiekongres ’n platinumtoekenning vir die beste mondelinge aanbieding ontvang, en sy het ’n reistoelae gekry om haar navorsing in 2016 by die vergadering van die Internasionale Hipertensievereniging in Seoel, Suid-Korea aan te bied.

Die wetenskaplike bydrae van haar PhD-werk is in November 2017 op “Spotlight of the Month” aangebied soos die komitee vir nuwe navorsing van die Internasionale Hipertensievereniging dit bepaal het.

Befondsing maak deure oop
Hoe het haar verhouding met die NNS haar loopbaan en haar persoonlike lewe beïnvloed?

“Eerstens sou ek sonder die NNS-befondsing nooit die huidige stadium in my loopbaan en my persoonlike lewe bereik het nie. Ek het in my finale BSc-jaar nie eers daarvan gedroom om my meestersgraad te verwerf nie, wat nog te sê van ’n PhD, en hoofsaaklik as gevolg van finansiële redes. Dit is omdat my hele voorgraadse graad deur NSFAS befonds is en die skema op daardie stadium nie vir nagraadse studente voorsiening gemaak het nie.

“Ten spyte van die onsekerheid oor befondsing het ek vir my honneursgraad in fisiologie aansoek gedoen omdat ek passievol was oor die funksionering van die menslike liggaam. Ek is vroeg in 2011 aanvaar en is ingelig dat ek ’n beurs van die NNS vir my honneursgraad gekry het. Dit het ’n wêreld van moontlikhede vir my oopgemaak. Ek het toe begin dink om ’n meestersgraad in fisiologie te doen,” sê sy.

In 2013 het dr Gafane-Matemane ’n Innovasiebeurs vir ’n Meestersgraad gekry om aan die NWU te studeer en kon sy haar graad in net een jaar voltooi. Sy sê dat haar grootste dankbaarheid die feit is dat die bedrag van die befondsing genoeg was om vir haar studies te betaal asook vir persoonlike uitgawes, soos om van Noordwes af te reis om haar seun in Limpopo te besoek.

“Met my PhD-befondsing in 2014 kon ek verblyf afkampus bekostig sodat ek voltyds by hom kon wees. Ek kon dus met die NNS-befondsing my studies met welslae voltooi en steeds as moeder teenwoordig wees, wat nie altyd moontlik is vir vroue uit ’n minderbevoorregte agtergrond wat nagraadse studies wil aanpak nie.”

As jy oor haar navorsing vra, is dit duidelik dat sy vasbeslote is om ’n impak op die lewens van Suid-Afrikaners te maak.

“Suid-Afrika het ’n hoë voorkoms van hipertensie. Dit word nie meer as ’n gesondheidsprobleem van bejaardes beskou nie, aangesien dit baie algemeen ook by jonger mense voorkom. STATS SA rapporteer dat hipertensiegevalle, hartsiekte en serebrovaskulêre siektes van die belangrikste oorsake van sterftes onder Suid-Afrikaners is, en beklemtoon die dringende noodsaaklikheid om die stygende kardiovaskulêre siektelas hok te slaan.

“Ek is tans betrokke by talle navorsingsprojekte wat fokus op faktore wat verband hou met hipertensie en kardiovaskulêre siekte by kinders, jong volwassenes, bejaardes en mense wat met MIV/Vigs leef.”

Deur haar navorsing wil sy hoofsaaklik op bestaande kennis bou om te help om die patofisiologiese pad te verstaan wat tot die ontwikkeling van kardiovaskulêre siekte lei en die dood tot gevolg het.

“Die resultate van hierdie navorsing sal dus ’n wydverspreide impak hê en intervensienavorsing stimuleer met die potensiaal om hipertensie te verlig en só die risiko vir uiteindes soos ’n beroerte en hartsiekte verlaag,” sluit sy af.

Dr Gafane-Matemane.