MSc-student doen navorsing om motordiefstal in SA te voorkom

Marelize Santana -- Tue, 10/08/2019 - 12:15

MSc-student doen navorsing om motordiefstal in SA te voorkom

Die veiligheid van voertuie is ’n groot bekommernis in Suid-Afrika, veral met die jongste statistiek wat toon dat meer as 48 000 motors en motorfietse in die afgelope finansiële jaar gesteel is.

Hoewel dit ’n effense afname toon vergeleke met die vorige jaar, is die syfer steeds kommerwekkend.

Mawonde Kudakwashe, ’n MSc-gegradueerde in rekenaarwetenskap, pak die probleem trompop en het onlangs navorsing gepubliseer oor hoe om motordiefstal in Suid-Afrika te voorkom.

Sy navorsingsonderwerp was “Vehicular ad-hoc network-based anti-theft model for car theft prevention in South Africa”.

Die onderliggende probleem, sê Mawonde, is dat voertuie wat reeds op die pad is onvoldoende sekuriteitstegnologie het, terwyl die voertuie wat vervaardig word variasies van die ou tegnologie gebruik sonder om al die swakhede te verwyder.

Daarteenoor bring nuwe tegnologieë nuwe maniere vir oortreders om die veiligheid van voertuie in gevaar te stel.

Sekuriteitstelsel wat op netwerking, kriptografie en biometrika gegrond is

“Daar is ’n behoefte aan ’n nuwe benadering in die hantering van sekuriteit wat nie net die probleme van die verlede hanteer nie, maar ook verseker dat daar geen bykomende moontlikhede deur die gebruik van nuwe tegnologie geskep word nie,” sê Mawonde.

“Dit sal help in die ontwikkeling en bekendstelling van kragtiger sekuriteitstelsels en  tegnologieë, en die koers van voertuigdiefstal en kapings verder verlaag.”

Om die diefstalpandemie te hanteer, het Mawonde ’n nuwe sekuriteitstelsel bekendgestel wat op netwerking, kriptografie en biometrika gegrond is. Hierdie stelsel wil die voertuig veilig hou deur kragtige sekuriteitsmeganismes en sensors om waar te neem wanneer daar met hardeware gepeuter word. Dit skep ook ’n eenmalige wagwoord om te verseker dat sekuriteitsleutels nie hergebruik word nie en om te verhoed dat inligting in gevaar is wanneer data onderskep word.

Hy het simulasietegnieke gebruik om die doeltreffendheid van die stelsel te toets, en die resultate geëvalueer met behulp van ’n menigte mobiele toestelle, ’n draadlose netwerk en verskillende rekenaars wat op Windows en Linux loop.

Fnuik misdadigers

Mawonde is entoesiasties oor tegnologie in al sy vorms en fasette. Hy sê hy waardeer die wyse waarop tegnologie ontwikkel om in die behoeftes van die wêreld en van individue te voorsien.

“Ek is besorgd oor hoe slegte mense die inherente swakhede uitbuit wat uit die nuut-geïmplementeerde tegnologie voortspruit, en sien daarna uit om die bedreigings te verminder wat nuwe tegnologie as gevolg van hierdie slegte persone na vore bring,” sê hy.  

“Ek glo in ’n verantwoordelike ontwikkeling van tegnologie waar elke vooruitgang ’n stel maatreëls sal hê wat die misbruik daarvan deur mense wat die kennis daarvoor het, sal keer.” 

Mawonde Kudakwashe het navorsing gedoen oor die voorkoming van motordiefstal in Suid-Afrika.