Moody’s: SA moet sy huis in orde kry om universele rommelstatus te vermy

Belinda Bantham -- Mon, 11/04/2019 - 14:25

Moody’s: SA moet sy huis in orde kry om universele rommelstatus te vermy

“Moody’s se besluit om die vooruitsig vir sy kredietgradering van die Suid-Afrikaanse regering van ‘stabiel’ na ‘negatief’ te verlaag, is nie onverwags in die lig van Suid-Afrika se swak ekonomie en verbrokkelende staatsfinansies nie.”


So sê prof Raymond Parsons, ʼn bekende ekonoom en akademikus van die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool.

“Die Moody’s-beoordeling waarsku dat, tensy Suid-Afrika sy ekonomiese huis binnekort in orde kry, daar ’n moontlikheid is dat ’n beleggingsafgradering later sal volg. Suid-Afrika is dus gewaarsku om dringend sy ekonomiese bestuur te verbeter. In die lig van die bestaande subbeleggingsgradering van Standard & Poor sowel as Fitch word doelgerigte kollektiewe optrede vereis as Suid-Afrika uiteindelik universele rommelstatus wil vermy,” sê hy.

Prof Parsons sê indien Suid-Afrika later na universele rommelstatus afgegradeer word, sal daar die potensiële kapitaaluitvloei en hoër leningskoste wees wat met Suid-Afrika se verwydering van die wêreldwye effekte-indekse gepaard gaan.  

“Dit maak dit uiteindelik moeiliker en duurder om finansiële groei deur die openbare sowel as privaat sektor te finansier. Moody’s se boodskap is dus dat die land ’n baie groter daadwerklike poging moet aanwend om uit sy ‘laegroei-valstrik’ te breek, maar sonder om in ’n ‘skuldvalstrik’ vasgevang te word. Die fundamentele uitdaging vir Suid-Afrika bly dus die oorkoepelende een van die implementering van noodsaaklike pro-groeihervormings.”

Volgens prof Parsons dra die negatiewe vooruitsig ook Moody’s se toenemende kommer gedeeltelik oor dat die politieke wil nie daar is om amptelike planne te implementeer om die ekonomie om te keer nie.

Hy sê hoewel die onlangse MTBPS ’n eerlike evaluering van Suid-Afrika se huidige droewige fiskale vooruitsig is, het dit ver tekortgeskiet om die nodige vertroue te skep dat belangrike hulpmiddels inderdaad geïmplementeer gaan word.

“Om ’n geloofwaardige fiskale strategie te skep om die stygende staatskuld aan bande te lê, het beleidsmakers inderdaad met moeilike keuses gelaat. Hierdie keuses kan egter nie langer vermy of onbepaald uitgestel word nie – soos dié oor Eskom.

“Wat Suid-Afrika basies nou nodig het om die fiskale situasie om te keer, is ’n sterk en volgehoue verbetering in sy dalende groeikoers, wat die oorkoepelende prioriteit in die ekonomiese beleid moet bly.

“Beleggersvertroue moet versterk word. Die naderende beleggingsberaad van 5 tot 7 November sal nog ’n belangrike geleentheid wees om noue samewerking te versterk wat tussen die regering en sakelui nodig is om projekte en beleide te bevorder wat vir werkskeppende groei nodig is. Moody’s se besluit maak hierdie geleentheid selfs belangriker,” sluit hy af.