Moderne toerusting neem die NWU se sportwetenskap tot ’n nuwe vlak

Belinda Bantham -- Mon, 03/23/2020 - 11:55

Moderne toerusting neem die NWU se sportwetenskap tot ’n nuwe vlak

Al ooit gewonder waarheen die ikoniese Superman gaan om sy voortreflike uiterlike voorkoms in stand te hou? Dit is heel waarskynlik na die Noordwes-Universiteit (NWU) se sportwetenskapafdeling by die nuwe Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP).

Veral noudat die CHHP nóg ultramoderne oefentoerusting aangeskaf het wat die eerste van hul soort in die land is.

ʼn Tegnologies-gevorderde trapmeul ter waarde van meer as ʼn halfmiljoen rand is die jongste toevoeging tot dié sentrum se moderne sport-speelgoed.

Wat die Woodway-trapmeul anders maak as ʼn tradisionele trapmeul, is sy veiligheidsharnas waaraan sportlui hulleself kan vasmaak sodat ʼn val-risiko uitgeskakel word – veral wanneer daar teen ʼn hoë spoed geoefen/getoets word. Dit stel sportlui in staat om tot hulle volle potensiaal en werkverrigting te oefen, toets of evalueer, sonder dat moontlike beserings hulle seisoen kan kelder.

Die Woodway PRO XL-trapmeul is volgens dr Yolandi Willemse, hoof van NWU se Instituut vir Sportwetenskap en Biokinetika, ’n absolute móét vir hulle opleiding en dienslewering vir menslike prestasie in die oefensentrum.

“Die heel beste en elite-atlete raak nie uitgepraat oor ons nuwe toerusting nie. Dit neem nie net dienslewering aan ons atlete en die publiek na ʼn volgende vlak toe nie, maar bied ook ’n geleentheid vir nuwe navorsing – wat voorheen beperk was,” sê sy.

Die trapmeul se loopband bestaan uit ʼn sagte, rubberagtige materiaal wat baie minder stremming en skok op sportlui se liggaam plaas. “Dit gee jou die gevoel van ‘op die wolke hardloop’,” meen dr Willemse.

Die feit dat die helling van die trapmeul se breë loopoppervlak met tot soveel as 25% gelig kan word, en dat dit ʼn spoed van 24 km per uur kan handhaaf, bied selfs vir die fiksste en vinnigste atlete ʼn goeie uitdaging.

“Ons het in die verlede baie gesien dat sportlui nie hul heel beste verrigting op ʼn tradisionele trapmeul wil gee nie, omdat daar ’n groot risiko bestaan dat hulle tydens ’n toets of ’n oefening kan val en ernstige beserings kan opdoen,” sê Kyra Duvenage, ʼn sportwetenskaplike.

“Dié trapmeul skakel daardie risiko heeltemal uit omdat die veiligheidsharnas soos ʼn vangnet optree indien sportlui sou val of struikel. Dit stel ons in staat om akkurate metings te doen wanneer atlete se VO2-Maks (aërobiese kapasiteitstoets) getoets word.

“Dit bied ons ook nou die geleentheid om meer toetsings en navorsing op gestremde atlete te doen. Ons het in die verlede ʼn blinde atleet gehad wat van ons dienste gebruik gemaak het. Ongelukkig was ons bestaande toerusting van so aard dat ons nie die atleet se volle potensiaal kon oefen, evalueer of ontwikkel nie. Hierdie nuwe trapmeul, wat ons derde en mees gevorderde een in die Woodway-reeks is, maak dit egter nou moontlik.”

Die NWU se Instituut vir Sportwetenskap en -ontwikkeling val onder die onlangs-gestigte CHHP. Hier kan toonaangewende wetenskaplike kundigheid op al hulle uiteenlopende dienste, kliënte en studente toegepas word.

Die CHHP kombineer die kundigheid en ervaring van die Instituut vir Sielkunde en Welstand, die Instituut vir Sportwetenskap en -ontwikkeling, asook die Instituut vir Biokinetika.

Die NWU se Instituut vir Sportwetenskap en -ontwikkeling is nie net daar om ʼn diens aan professionele atlete te bied nie. Die publiek is welkom om van hulle spesialiteitsdienste en ‑toerusting gebruik te maak, met kundige personeel wat met raad en aanbevelings gereed staan. Hulle kan met enige ontspannings- en sportverwante evaluasies help.

Kontak gerus vir dr Yolandi Willemse en haar sportwetenskapspan by issd@nwu.ac.za of by 018 285 2493 vir meer inligting.

Wie weet, jy loop dalk net ʼn Marvel-superheld daar raak …      

 Die NWU se Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP) het onlangs ʼn Woodway-trapmeul aangeskaf, die eerste van sy soort in die land. Wat dié trapmeul anders maak as ʼn tradisionele trapmeul, is sy veiligheidsharnas waaraan sportlui hulleself kan vasmaak sodat ʼn val-risiko uitgeskakel word – veral wanneer daar teen ʼn hoë spoed geoefen/getoets word.