Misverstande is apartheid se blywende erfenis

Belinda Bantham -- Tue, 09/12/2017 - 12:56

Misverstande is apartheid se blywende erfenis

Die blywende erfenis van apartheid is dat die meeste Suid-Afrikaners in hulle kulturele ruimtes gebly het. “Ons het nog nooit ’n werklike poging aangewend om meer oor die mense te leer met wie ons die land deel nie,” verduidelik prof Henri Bezuidenhout van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Ekonomie en een van die land se voorste kundiges oor kulturele intelligensie.

Henri is die enigste persoon uit Afrika wat ’n omvattende sertifisering van die Cultural Intelligence Center van Michigan in die VSA, asook ’n Vlak II Cross-Cultural Competency Certification van Richard Lewis en CrossCulture in die VK het.

Daar was die afgelope jaar ’n klompie kultureel-onsensitiewe opmerkings, wat gewissel het van Helen Zille se twiets oor, volgens haar, die positiewe gevolge van kolonialisme, tot by Black First Land First se openlike dreigemente teen wit joernaliste. Dit is maar twee van die talle voorbeelde wat die hoofopskrifte gehaal het. 

Volgens Henri is dit nodig dat daar by Suid-Afrikaners ’n dieper kruis-kulturele bewustheid en begrip moet wees. Onlangse media-insidente, van Zille se opmerkings tot by die Spur-sage, beklemtoon die feit dat Suid-Afrikaners nog ’n lang pad het om ons kulturele begrip te bevorder.

Onbewuste vooroordeel

“Alle mense het ’n onbewuste vooroordeel. Jy beoordeel sonder dat jy weet jy doen dit en diegene om jou doen dieselfde. ’n Mens is gesosialiseer om só te wees, jy het ’n inherente voorkeur om by mense te wees wat soos jy is en hulle op te soek. Ons het tans in Suid-Afrika twee kulture wat baie van mekaar verskil. As ons dit weet, is die vraag of ons gaan toelaat dat hierdie vooroordeel ons aktief gaan beheer, en of ons gaan probeer om ons gedrag te verander. Onthou, ons het almal hierdie onbewuste vooroordeel, maar die hartseer ding is dat ons dit nie almal wil weet nie,” sê Henri.  

Die regering se standaard-benadering om alle kulturele kwessies te benader, help ook nie veel nie. Hy sluit af dat kulturele intelligensie voorskryf dat sukses in die viering van diversiteit lê deurdat daar wedersydse begrip, respek en samewerking is waar die geheel groter as die dele raak.

Mikro-aggressie is uitdrukkings van onbewuste vooroordele, kulturele vooroordele wat in alle mense ingegraveer is. Die meeste maatskappye wat breë swart ekonomiese bemagtiging geïmplementeer het, het ’n toename in hierdie aggressiewe optredes gehad. Onbewuste vooroordele is in wese nie rassisties nie. ’n Onbewustheid van diepgewortelde verskille in kulture wat as mikro-aggressie na vore kom, word egter redelik vinnig rassisties.

Kyk met die ander een se oë

Daar is ook verskillende prentjies om in gedagte te hou.

“Ons Suid-Afrikaanse samelewing is volgens die Anglo-Germaanse bloudruk gebou en dit is waaraan ons, as wit burgers, gewoond is. Ons ken nie enigiets anders nie. Swart mense moet ook besef dat dit die enigste samelewing is wat wit mense ken. ’n Begrip van verskillende kulturele standpunte is uiters belangrik vir hierdie samelewing om in harmonie te lewe,” sê Henri.

“Kom ons kyk na ons samelewing. Verbeel jou jy kyk na die samelewing vanuit ’n swart perspektief: alles om jou het vanuit ’n wit perspektief tot stand gekom en dit is die werklikheid waarmee jy 24 uur per dag gekonfronteer word. Die manier om lief te hê word op jou televisiestel vanuit ’n Westerse of Hollywood-geïnspireerde oogpunt uitgebeeld. Kom ons dink ook daaraan dat ons in ’n land woon waar ’n geslag wit burgers kies om nie langer in ’n gesegregeerde samelewing te woon nie en dat hulle kinders nie die argitekte van daardie samelewing is nie. Kom ons begin om die wêreld deur mekaar se oë te sien.”

Foto: Prof Henri Bezuidenhout van die NWU se Skool vir Ekonomie en een van die land se voorste kundiges oor kulturele intelligensie.

 Prof Henri Bezuidenhout from the NWU’s School of Economics is one of the country's foremost experts on cultural intelligence.