Medelye van die NWU: afsterwe van prof Anis Karodia

Belinda Bantham -- Fri, 03/01/2019 - 14:29

Medelye van die NWU: afsterwe van prof Anis Karodia

Die gemeenskap van die Noordwes-Universiteit (NWU) betreur die afsterwe van prof Anis Mahomed Karodia. Prof Anis het op Woensdag 27 Februarie sy stryd teen kanker verloor.


Sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse politiek, maatskaplike kwessies, onderwys, landbou en veeartsenykunde en navorsing was ’n verstommende reis wat talle hindernisse oorkom het.

Hy is in Februarie 2006 met kanker gediagnoseer en het chemoterapie ondergaan, maar het steeds vir ’n PhD aan die NWU geregistreer en die graad binne twee jaar voltooi – getuienis van sy taaiheid en entoesiasme vir die lewe.

Prof Karodia was 33 jaar lank ’n staatsamptenaar en het in die provinsiale regerings van Noordwes en Limpopo in die landbou- en onderwysdepartement gewerk.

Gedurende sy termyn by die Noordwes Departement van Onderwys het hy deur middel van die amalgamasie van onderwysopleidingsinstellings met die universiteit ’n belangrike rol in die transformasie van die NWU gespeel.

Hy het in Durban op MBA-vlak lesings in gesondheidsorgbestuur aangebied, en was ’n voltydse navorser aan die Regent Business School. Prof Karodia was betrokke by verskeie uitreikprogramme om gevangenes in KwaZulu-Natal op te lei.

 “Prof Karodia se prestasies is te veel om op te noem. Hy was ’n gemeenskapsgedrewe filantroop wat sedert sy dae as ’n studente-aktivis tydens die struggle die mense van Suid-Afrika met passie en toewyding gedien het. Ons loof hom vir sy waardevolle bydraes,” sê prof Dan Kgwadi, visekanselier.

Die NWU het prof Anis in 2015 met ’n NWU Alumni-toekenning in die opvoedkundekategorie vereer.

 Prof Anis Mahomed Karodia