Meal-a-Day-program kry ’n hupstoot

Belinda Bantham -- Fri, 03/09/2018 - 12:28

Meal-a-Day-program kry ’n hupstoot

Die Meal-a-Day-program by die Noordwes-Universiteit (NWU) het vroeër vanjaar ’n groot hupstoot ontvang toe die kleinhandel-voedselverskaffer, Tiger Brands, ingestem het om die voedsel wat aan behoeftige studente op die drie kampusse verskaf word, te vermeerder.

Volgens Donald Molema van die kampus in Mahikeng het hulle ’n vaste belofte ontvang dat die maatskappy nou elke maand vir 342 studente kospakkies beskikbaar sal stel.

Maggie Matsaneng op die kampus in Vanderbijlpark sê hulle het 235 aansoeke ontvang en dat hulle 72 studente van Tiger Brands-kospakkies kan voorsien.

Volgens Petro Boshoff op die kampus in Potchefstroom het 186 studente gebaat by die kospakkies wat deur Tiger Brands verskaf word.

Donald, Maggie en Petro sê dat hierdie bydraes studente geweldig baie help en aan talle behoeftige studente elke maand meer voedselsekerheid gee.

Petro sê dat hulle graag behoeftige studente met leierskapsopleidingskursusse wil bemagtig sodat hulle die projek uiteindelik self kan bedryf. “Ons wil nie net na hulle fisiese behoeftes omsien nie, maar ons wil hulle ook met leierskapsvaardighede toerus.”

Donald sê dat die proses om die ontvangers op die kampus in Mahikeng te registreer sal fokus op diegene in erge nood en studente wat nie toegang tot maaltydkoeponne het nie.

Die Meal-a-Day-program maak ’n groot impak deur te verseker dat behoeftige NWU-studente op ’n gereelde basis kos kry, te danke aan die kosvoorrade wat deur Tiger Brands verskaf word.

 Anretha Joubert (Studentevoorligting en ‑ontwikkeling), Zinhle Sibanyoni (studentevrywilliger), Yudians Phoku (vrywilliger), Petro Boshoff (maatskaplike werker) en Lucky Dibe (vrywilliger) is besig om die kospakkies vir behoeftige studente op die kampus in Potchefstroom te pak.

Vrywilligers help om produkte wat deur Tiger Brands geskenk is in kospakkies vir behoeftige studente te pak.