MBA-gradeplegtigheid: Dubbel-goud vir die room van die oes

Belinda Bantham -- Thu, 05/31/2018 - 09:22

MBA-gradeplegtigheid: Dubbel-goud vir die room van die oes

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool het ʼn suksesvolle MBA-gradeplegtigheid agter die rug en het vanjaar geskiedenis gemaak met twee toppresteerders wat goud losgeslaan het.

Suretha Griesel, ʼn tandarts van Pretoria, en Theshan Govender, ʼn senior ingenieur by Anglo American, het elk ʼn goue medalje vir die beste algehele presteerders in die MBA-program ontvang.

ABSA is die hoofborg van dié prys. Hierdie borgskap sluit ʼn nege-karaat goue medalje in waarop die beste student se naam gegraveer is, asook ʼn sertifikaat, ʼn wisseltrofee en kontantbedrag.

Vanjaar was in vele opsigte ʼn uitsondering, omdat daar ook drie silwer medaljes van Professional Provident Society (PPS) vir die beste skripsies gelewer toegeken is.

Serentha Ramraj en Adéle Kloppers, onder studieleiding van prof Stephan van der Merwe, het met twee van dié gesogte PPS-medaljes weggestap.

Lucas Shabangu, het onder studieleiding van prof Christoff Botha die derde silwer medalje van PPS ontvang.

Om ʼn MBA te verwerf neem deursettingsvermoë, volharding en baie toewyding, maar dit bly steeds een van die mees verrykkende ervarings.

ʼn Totaal van 110 studente het MBA-grade aan die NWU Besigheidskool verwerf.

PPS-borgskap:Van links is prof Fulu Netswera, prof Stephan van der Merwe (studieleier:  Besigheidskool), Adele Kloppers (ontvanger van PPS silwer medalje: toppresteerder - skripsie), Heleen Smit (PPS-verteenwoordiger), Leonard Haasbroek (PPS-verteenwoordiger) en prof Sonia Swanepoel.

 (ABSA): Van links is Yolanda Rossouw (ABSA-verteenwoordiger), Jaco Greyling (ABSA-verteenwoordiger), prof Raymond Parsons (voorsitter van Besigheidskool se Adviesraad), Suretha Griesel (MBA toppresteerder: Klas van 2017), prof Fulu Netswera (Direkteur: Besigheidskool), prof Sonia Swanepoel (Uitvoerende Dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), en prof Ronnie Lotriet (MBA-programbestuurder).​​​​