Magiese motiewe agter renosterhoringhandel

Belinda Bantham -- Tue, 09/12/2017 - 12:55

Magiese motiewe agter renosterhoringhandel

Hoewel renostergetalle teen ’n skokkende koers verminder het, is daar ’n gebrek aan navorsing oor die verbruikers van die renosterhoring wat die vraag daarna aan die gang hou. Waarom verkies verbruikers renosterhoring bo ander alternatiewe?

In stellig die eerste studie om magiese denke (die geloof in towerkrag) met betrekking tot die onwettige verbruik van renosterhoring te bestudeer, is intensiewe onderhoude met 53 renosterhoringverbruikers in die hoofstad Hanoi in Viëtnam gevoer. Viëtnam is steeds ’n ontwikkelende land en ’n verbruikersamelewing wat erken word as een van die wêreld se grootste markte vir die onwettige handel in renosterhoring. Die studie ondersoek hoe onwettige verbruikers van renosterhoring se magiese denke ’n manier is om verskillende doelwitte na te jaag en te verkry.

Magiese denke kan beskryf word as ’n kognitiewe verdraaiing waar verbruikers op ’n irrasionele manier mistieke of bonatuurlike eienskappe aan voorwerpe of gebeure toeken, veral om stresvolle situasies te hanteer.

“Vir die heel eerste keer het ons onderhoude met die verbruikers van renosterhoring gevoer,” verduidelik prof Melville Saayman, direkteur van die navorsingseenheid TREES (Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewings en die Samelewing) by die Noordwes-Universiteit (NWU).  

“Daar is vroeër gemeen dat net die rykes renosterhoring verbruik, maar dit is nie die geval nie. Arm mense sal geld spaar om renosterhoring te koop as geneesmiddel vir verskillende kwale omdat hulle glo dat dit magiese eienskappe het. Om hierdie geloof dat renosterhoring magiese eienskappe het te verydel en hulle verkeerd te bewys, is die grootste uitdaging wat die bewaring van renosters in die gesig staar,” sê Melville.

“Daar is verder bevind dat die verspreiders van renosterhoring verkies dat die horings van renosters kom wat in hulle natuurlike habitat gestroop is, eerder as van kunsmatige omgewings soos wildplase. Hulle is ook gewillig om meer vir renosterhoring uit natuurlike areas te betaal.”

Die vraag is nou: Hoe onderskei verspreiders tussen hierdie twee tipes horings?

“Deur mondelinge oordrag. Verspreiders het invloedryke mense in die gemeenskappe wat hulle vertrou. Daardie mense doen hulle huiswerk en word nie deur namaaksels geflous nie. Hulle het ook intieme kennis oor waar die renosterhorings vandaan kom. Ons moet altyd ook onthou dat die handel in renosterhoring deur sindikate bedryf word wat binne ’n baie nou groep werk,” sê Melville.

In ’n vorige studie het Melville en sy span getoon dat renosterhoring ’n gewilde geneesmiddel vir babelaas is, maar renosterhoring word ook as “geneesmiddel” vir kanker en soortgelyke siektes beskou.

“Wanneer mense wat aan siektes ly renosterhoring saam met farmaseutiese medisynes neem, glo hulle dat dit die renosterhoring is wat hulle as gevolg van die gewaande magiese eienskappe daarvan gesond gemaak het.”  

Om die probleem te hanteer, behels groter samewerking met plaaslike owerhede asook met die Viëtnamese regering.

“In Viëtnam is daar ’n kultuur van verering vir plaaslike beroemdes, en dit is deur hulle wat ’n boodskap moet uitgaan om die mite van renosterhoring se magiese eienskappe die nek in te slaan. Ons regering moet saam met hulle Viëtnamese ampsgenote werk om die boodskap oor te dra dat renosterhoring nie oor magiese eienskappe beskik nie. Voorts moet die regering druk op Viëtnam en China plaas om ’n verbod op die invoer van renosterhoring te plaas. Dit het vir Jemen gewerk en daar is goeie rede dat dit daar ook sal werk.”

 Prof Melville Saayman.