Maatskaplike entrepreneur bekyk die toekoms

Belinda Bantham -- Mon, 06/11/2018 - 11:33

Maatskaplike entrepreneur bekyk die toekoms

Het jy geweet dat daar net 6 000 dae na 2035 oor is? Jy mag dalk vra wat dit relevant of noemenswaardig maak. Hierdie vrae is deur dr Wendy Luhabe, befaamde maatskaplike entrepreneur, baanbreker in die ekonomiese bemagtiging van vroue en denkleier, tydens haar openbare lesing by die Noordwes-Universiteit (NWU) oor die bevordering van innovasie en entrepreneurskap gevra.

Sy was die spreker by die vyfde openbare lesing wat prof Refilwe Phaswana-Mafuya, die adjunk-visekanselier vir navorsing en innovasie, onlangs aangebied het.

Sy het die vrae beantwoord en gesê dat Afrika se bevolking teen 2035 een biljoen mense sal bereik. “Dit sal 40 persent van die wêreld se bevolking verteenwoordig, en sal Afrika se bewoners die grootste arbeidsmag ter wêreld maak.

“Mense het nou twee opsies. Hulle kan dit óf as ’n globale krisis met stygende vlakke van armoede en werkloosheid beskou, óf hulle kan dit sien as ’n ongeëwenaarde moontlikheid om Afrika se potensiaal vir die toekoms te ontsluit.”

Dr Wendy sê dat die groot vraag is wat die rol van die instellings vir hoër onderrig sal wees om die jong geslag met entrepreneurs- en innoverende vaardighede toe te rus om die bron van wêreldwye voorspoed te word.

“Afrika het van die wêreld se toptalent wat ontsluit en ontgin moet word. Die vasteland het ook die jongste bevolking in die wêreld, met ’n gemiddelde ouderdom van 19,5 jaar, vergeleke met 46 jaar in Duitsland en Japan.

“Hierdie jeugdige mensekapitaal moet deur ons instellings opgevoed word om ’n ongeëwenaarde bron van innovasie en entrepreneurskap vir die hele wêreld te ontsluit.

“Ons moet nou die gehalte van ons opvoeding hervorm met al die tegnologiese voordele wat tot ons beskikking is sodat ons kinders in staat gestel kan word om die uitdagings te hanteer. Afrika het probleemoplossers nodig, nie passasiers nie, werkskeppers en die ontwikkelaars van ondernemings om mense in die toekoms van ’n werk te verseker.

Sy sê dat ons in die vierde industriële revolusie leef, waar tegnologie ons sal help om probleemoplossers te word. “Ons betree ’n era met ’n geslag mense wat vir hulleself werk, ’n era van skeppende denke wat broodnodige produkte en gebruiksgoedere teen ’n rekordspoed uitvind en bou, waarvan 3D-drukwerk 'n voorbeeld is.

“Die uiteindelike maatstaf van ’n suksesvolle universiteit sal die mate wees waartoe graduandi toegerus is om innoveerders en entrepreneurs van die toekoms te wees. Hulle moet die nodige vaardighede en instrumente hê om innoverende oplossings vir ons dreigende en chroniese probleme te vind, om ons ekonomie te laat groei, en om die behoeftes van ons gemeenskappe te dien.”

Dr Wendy het gesê dat daar meer aansporings vir groter groepe jongmense moet wees om innovering, ingenieurswese en navorsingstegnologie te bestudeer en om IT-ontwikkelingsprogramme op te stel sodat graduandi ondersteun kan word om suksesvolle entrepreneurs te wees.

“Die impak van die digitale ekonomie, die samevloei van vorderings in menslike kommunikasie, berekeninge en inhoud is besig om die manier te verander waarop ons die stroom inligting skep en hoe ons die ekonomie herskep.

Sy het die NWU aangespoor om die geleentheid te benut deur ’n geslag innoveerders en entrepreneurs op te lei wat in staat is om die probleme van ons tyd op te los. “Instellings het ’n groter verantwoordelikheid om die nuwe ekonomie vir nasies te vorm en om seker te maak dat ons bydra tot die skepping van die voorspoedige toekoms vir die geslagte wat kom.”

• Vir meer entrepreneursgeleenthede, stuur asseblief ’n e-pos aan entrepreneur@nwu.ac.za

Dr Wendy Luhabe