Maak seker dat skoonheidsmiddels veilig is vir gebruik

Belinda Bantham -- Thu, 11/22/2018 - 14:18

Maak seker dat skoonheidsmiddels veilig is vir gebruik

’n Groot aantal kosmetiese produkte wat deur mikro- en klein ondernemings in Afrika geproduseer word, is nie kosmeties getoets nie. Dit vergroot die kanse dat die gebruik van ’n kosmetiese produk die potensiaal het om meer kwaad as goed te doen.

Die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT) en die Noordwes-Universiteit (NWU) se Prekliniese Geneesmiddelontwikkelingsplatform (PKGOP) het vasgestel dat daar ’n groot behoefte is om entrepreneurs in te lig oor hoe hulle kan verseker dat hulle produkte getoets is en veilig is om te gebruik.

Die PKGOP het onlangs met die Suider-Afrikaanse Netwerk vir Biowetenskappe (SANBio) saamgewerk en 12 vroulike entrepreneurs in die skoonheidsmiddelbedryf gekry om die FEMBIObiz-kosmetiekwerkswinkel – die heel eerste van sy soort vir Suid-Afrika – by te woon.

Van die entrepreneurs wat die vyf dae lange werkswinkel op die NWU se kampus in Potchefstroom bygewoon het, het van so ver as die Seychelle, Botswana, Namibië en Zimbabwe gekom.

Kosmetiekinligting vir entrepreneurs                       

Die werkswinkel het bestaan uit ’n aantal sessies wat deur die PKGOP-personeel, Elmarie Erasmus van die kosmetiekmaatskappy Golden Rewards, en Quintin Verloop van die LycoDerm-apteekgroep in Centurion aangebied is.

Die 12 entrepreneurs het belangrike inligting ontvang ten opsigte van die verskillende formule-tipes en slaggate, aansprake met betrekking tot kosmetiese produkte, hoe om vir die verskillende aansprake te toets, die ontwerp van ’n skoonheidsmiddel-ekstraherings- of vervaardigingsgerief, en die implementering van ’n gehalteversekeringstelsel vir die kosmetiekprodukontwikkeling.

Volgens prof Anne Grobler, direkteur van die DWT/NWU PKGOP, het hierdie entrepreneurs weggestap met ’n baie goeie begrip van die ontwikkelingspad van ’n kosmetiese produk.

“Hierdie werkswinkel sal hulle in staat stel om die kennis wat hulle opgedoen het in die ontwikkeling van hulle produkte te implementeer. Nou het hulle ook ’n beter begrip van die belangrikheid van die vereistes ten opsigte van geriewe, gehalte en regulering wanneer kosmetiese produkte vervaardig of verkry word.  

Onneile Khwene, die stigter van Moritelo Natural Care en een van die werkswinkelafgevaardigdes, sê sy was geweldig opgewonde om die werkswinkel by te woon, aangesien die volgende stap vir haar onderneming is om kosmetiekware te vervaardig en dit aan groot franchises te verskaf. “Ek kan eers begin om my produkte aan groot kettingwinkels te verkoop wanneer dit klinies getoets is, en hierdie werkswinkel sal my in die regte rigting stuur.”

Prof Grobler voorsien dat hierdie werkswinkel op ’n jaarlikse basis sal plaasvind, met die moontlikheid van gevorderde werkswinkels en ’n digitale kursus vir die teoretiese gedeeltes daarvan.  

“Ons sal met hierdie entrepreneurs kontak behou. Ons sal hulle vordering dophou, en met toekomstige produkontwikkelings- en kommersialiseringsaktiwiteite help,” sê prof Grobler.

“Ons doelwit is om ’n kosmetiekkennis-verwysingsentrum vir entrepreneurs uit Afrika in die skoonheidsmiddel- en liggaamsversorgingsektore en dié van natuurlike produkte te word.”

 Hier is die 12 vroulike entrepreneurs wat die FEMBIObiz-kosmetiekwerkswinkel bygewoon het. Voor saam met hulle is Quintin Verloop van die LycoDerm-apteekgroep wat van die sessies aangebied het.