Leer jongmense van die sonnestelsel

Belinda Bantham -- Tue, 11/21/2017 - 09:52

Leer jongmense van die sonnestelsel

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Sentrum vir Ruimtenavorsing (SRN) het onlangs by 86 ander lande aangesluit om die volgende geslag ruimte-entoesiaste tydens die Wêreld Ruimteweek* te inspireer en te onderrig.  

Die SRN het ’n aantal leerders van die Laerskool Klerksdorp, en graad 10- en 11-leerders van Hoërskool Klerksdorp na die Wetenskapsentrum op die NWU se kampus in Potchefstroom genooi om te leer oor alles wat met die ruimte en wetenskap verband hou.

’n Aanbieding oor die soeke na lewe in die sonnestelsel en oor die toekomstige kolonisering van Mars is deur dr Eugene Engelbrecht en dr Du Toit Strauss van die SRN gelewer. ’n PhD-student, Lourens Prinsloo, het gepraat oor die weer in die ruimte, en die nuwe SRN-sonteleskoop gedemonstreer.

“Ons het besef dat baie jongmense nie weet dat dit moontlik is om ’n loopbaan op die gebied van fisika te volg nie. Daarom het ons hulle tydens die program ook ingelig oor die verskillende loopbaangeleenthede wat bestaan,” sê Eugene.

Die SRN sien uit na volgende jaar se Ruimteweek en beplan om in 2018 uitstallings by verskeie skole te hou. Skole wat belangstel om deel te neem, kan vir dr Engelbrecht by 084 995 5445 kontak, of ’n e-pos aan 12580996@nwu.ac.za stuur.

 

*Wêreld Ruimteweek is tot op hede die grootste ruimteverwante geleentheid. Dit word jaarliks van 4 tot 10 Oktober gehou.