Kwaliteit plaas NWU in ’n uitmuntende posisie op ranglyste

Belinda Bantham -- Fri, 07/31/2020 - 13:11

Kwaliteit plaas NWU in ’n uitmuntende posisie op ranglyste

Die uitstekende vakaanbiedings op die gebied van atmosferiese wetenskap, kliniese medisyne, opvoedkunde, gasvryheid- en toerismebestuur, en openbare gesondheid by die Noordwes-Universiteit (NWU) het die universiteit se posisie op wêreldranglyste opgestoot. Dit is ook ’n groot prestasie vir die NWU om eerste op die gebied vir wiskunde gegradeer te word.

Volgens die jongste bevindings van die Shanghai Ranking Consultancy se Global Academic Ranking of World Universities (ARWU), is die NWU onder die topuniversiteite op bogenoemde kundigheidsgebiede. Dit herbevestig dat die NWU ’n akademiese instelling is waar uitnemendheid steeds triomfeer en gehalte van die hoogste standaard gevier word.

Die ARWU is ’n wêreldwye graderingstelsel wat meer as 1 800 instellings van 90 lande en streke evalueer. Dit is waarom ’n plasing onder die top-500 ’n noemenswaardige prestasie is, aangesien vakke teen die beste van die bestes gemeet word. Die resultate word jaarliks gepubliseer.

Die NWU is eerste op die rangordeleer vir wiskunde in die nasionale/streeksrangorde in Suid-Afrika. Die universiteit is in die kategorie vir die top-201 tot -300- van die ARWU 2020 se vakranglys. Die NWU is die enigste Suid-Afrikaanse universiteit wat in die top-500 vir wiskunde verskyn. Dit is ’n voortsetting van en indrukwekkende verbetering op die NWU se goeie prestasie in vorige jare in die ARWU-graderings vir hierdie vak.  Die universiteit is in 2019 in die 301- tot 400-kategorie (eerste in Suid-Afrika) gegradeer, en in 2018 was ons in die 401- tot 500-kategorie (in die toptwee saam met die Beni-Suef Universiteit van Egipte as nommer 1). Om hierdie ranglys te sien, besoek: http://www.shanghairanking.com/Shanghairanking-Subject-Rankings/mathemat....

Die NWU word gegradeer onder die topuniversiteite in die 151- tot 200-kategorie op die gebied van atmosferiese wetenskappe (http://www.shanghairanking.com/Shanghairanking-Subject-Rankings/atmosphe...), kliniese medisyne (http://www.shanghairanking.com/Shanghairanking-Subject-Rankings/clinical...), openbare gesondheid (http://www.shanghairanking.com/Shanghairanking-Subject-Rankings/public-h...) en gasvryheid- en toerismebestuur (http://www.shanghairanking.com/Shanghairanking-Subject-Rankings/hospital...).

Die NWU is ook in die 301- tot 400-kategorie op die gebied van opvoedkunde. (http://www.shanghairanking.com/Shanghairanking-Subject-Rankings/educatio...).

Die ARWU volg op ander suksesse in graderings vir die NWU. Die universiteit is vroeër vanjaar onder die beste 101 tot 150 universiteite uit meer as 350 universiteite op die Times Higher Education (THE) Young University Rankings se ranglys geplaas.

Ons het ook in Junie noemenswaardige sukses beleef op die ranglys van die Centre for World University Rankings (CWUR), en in Februarie op die THE se Emerging Economies-ranglys. Lees meer: http://news.nwu.ac.za/nwu-continues-shine-rankings.

Prof Dan Kgwadi, visekanselier en hoof van die NWU, sê dat die universiteit sy prestasies op die ranglyste vier. “Dit dra by tot die NWU se droom om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika en die wêreld te wees wat deur betrokke vakkundigheid, maatskaplike responsiwiteit en ’n sorgsaamheidsetiek onderskei word.”