Kry die NWU se kookboek oor tradisionele Tswana-kookkuns onder oë

Marelize Santana -- Thu, 02/22/2018 - 15:39

Kry die NWU se kookboek oor tradisionele Tswana-kookkuns onder oë

Dit raak al hoe makliker om jou familie en vriende met tradisionele Tswana-disse te beïndruk. Dr Nicole Claasen van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Afrika-eenheid vir Transdissiplinêre Gesondheidsnavorsing (AUTHeR) het saam met 129 vroue ’n kookboek met tradisionele Tswana-kos, A Taste of Vaalharts, saamgestel.

“Hoewel daar dokumentasie oor tradisionele disse bestaan, is daar baie min literatuur oor tradisionele Tswana-kookkuns,” sê dr Claasen. “Hierdie kookboek sal help om die Tswana-kosmaaktradisies te bewaar sodat dit van geslag tot geslag oorgedra kan word.”   

Die 25 watertandlekker resepte in die kookboek is verdeel in drankies, styselkos, vleis- en groentegeregte. Aangesien dit ’n tradisionele kookboek is, word die resepte in Tswana en Engels gegee om mense uit verskillende kulturele agtergronde te akkommodeer.

Dr Claasen en dr Shinga Chigeza, ’n navorsingsielkundige, het met die idee vir A Taste of Vaalharts vorendag gekom toe hulle aan ’n navorsingsreferaat oor die kennis van tradisionele kosse saamgewerk het.

Die navorsingsprojek is deur die televisieprogram Come Dine with Me geïnspireer, en hulle fokusgroep het uit vroue tussen die ouderdom van 14 en 74 jaar uit dorpies in Noordwes en die Noord-Kaap bestaan. Hierdie vroue is in groepe verdeel en elke groep is gevra om ’n maaltyd voor te berei wat uit een stysel-, een groente- en een vleisdis bestaan het. Al die vroue het ná die tyd bymekaargekom om aan die verskillende maaltye te smul.

Jy kan A Taste of Vaalharts gratis aflaai.